Nuus 11:00
BULLETIN 1 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sê opvoedkundige instellings het slagvelde geword
# Die Minerale Raad sê daar is ‘n daling van 24-persent in noodlottige mynongelukke
# En die Europese Unie is gereed om nog sanksies teen Rusland in te stel
# RISE Mzansi sê onderwysinstellings in Suid-Afrika het slagvelde geword. In die eerste drie kwartale van die huidige boekjaar is altesaam 36 moorde by onderwysinstellings aangemeld teenoor 33 vir die hele vorige jaar. RISE Mzansi se woordvoerder, Makashule Gana, sê hulle sal vrae rig aan die ministers van Basiese Onderwys, Polisie, Hoër Onderwys en Justisie om te verstaan watter stappe gedoen word om veiligheid by hierdie instellings te verseker:
# Die Minerale Raad Suid-Afrika het ‘n daling van 24-persent in mynsterftes aangekondig met 42 sterftes teenoor die 55 van verlede jaar. Die bedryf het ook ‘n vermindering van 16-persent in beserings aangeteken. Meer as 300 bedryfsdeskundiges het op ‘n geleenthede maniere bespreek om veiligheid te verbeter en rotsstortings te voorkom, wat die grootste gevaar inhou in ondergrondse myne. Allan Seccombe van die raad sê nuwe veiligheidstegnologie help die bedryf om nader te beweeg aan sy doelwit van geen skade.
# Die DA in Gauteng het ‘n kankerskandaal-teller bekendgestel om die dae te tel tot premier Panyaza Lesufi diegene afdank wat vir die kankerbehandeling-ramp verantwoordelik is. Die Gautengse Hooggeregshof het verlede week beslis die provinsiale Gesondheidsdepartement se versuim om ʼn plan in te stel om kankerpasiënte op die waglys betyds met bestraling te behandel, was onregmatig en ongrondwetlik. Jack Bloom van die DA sê Lesufi moet dadelik optree om lewens te red:
# Europese ministers van Buitelandse Sake beskuldig Rusland dat hy ʼn skietstilstand in Oekraïne vertraag en sê dis duidelik Moskou jaag nie vrede na nie. Amerikaanse en Russiese amptenare beraadslaag reeds weke lank oor ʼn skietstilstands-ooreenkoms. Die Europese Unie se hoof van Buitelandse Beleid, Kaja Kallas, sê hulle is gereed om verdere druk op Moskou te plaas, insluitend nuwe sanksies om seker te maak Oekraïne is in die beste moontlike posisie om regverdige en blywende vrede te verseker:
# Rugby: Nieu-Seeland Rugby en Ineos het hul twis oor ‘n borgskaps-kontrak bygelê. Die Britse chemiese reus is daarvan beskuldig dat hy die ooreenkoms oor sy kontrak van ses jaar geskend het. Die maatskappy van die Britse miljardêr Jim Ratcliffe het volgens berigte sonder meer sy groot kontrak drie jaar vroeg opgeskort en nie vanjaar se eerste betaling gemaak nie. Albei partye sê hulle is tevrede met die uitkoms, terwyl die besonderhede daarvan vertroulik bly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-398-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-133-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….