Nuus 11:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 14 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Energiekenner sê minister Gordhan moes lankal in die pad gesteek gewees het
# Agbiz voorsien Suid-Afrika kan die ergste gevolge van El Niño vryspring aangesien goeie reën voorspel word
# En, die Valke maak nóg ‘n deurbraak in die moord op die aktivis Loyiso Nkohla
# ‘n Energie-kenner, Mthunzi Luthuli, sê die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, moes lankal afgedank gewees het óf uitgetree het, want ál die staatsinstellings onder sy beheer is besig om te misluk. Luthuli se opmerkings strook ook met die mening van die DA, wat aangevoer het dat Gordhan die afgelope vyf jaar ‘n ongekende bestuurschaos tot gevolg gehad het op uitvoerende en raadsvlak by staatsondernemings. Luthuli sê, Gordhan hou aan verskoning maak vir die swak vertoning van staatsondernemings, te midde van staatskaping, en geo-politieke magte, maar dit is duidelik hy is ‘n ondoeltreffende minister.
# Die hoofekonoom van Agbiz, Wandile Sihlobo, het die nuus verwelkom dat die land moontlik die ergste gevolge van El Niño kan vryspring weens goeie reën wat voorspel word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se jongste data dui bo-normale reënval van November tot Maart in die noordooste aan, terwyl minder reënval in die sentrale en suidwestelike dele van die land verwag word. Sihlobo sê hierdie reën sal na verwagting kritieke stadiums ten opsigte van bestuiwing van somergewasse dek, wat broodnodige vog sal verskaf en moontlik tot beter opbrengste sal lei.
# Die Valke het nóg ‘n deurbraak gemaak in die moord op die voormalige politikus en aktivis Loyiso Nkohla. Hy is in April by die Philippi-treinstasie doodgeskiet nadat hy ‘n gemeenskapsvergadering bygewoon het. ‘n Woordvoerder van die Valke, Siyabulela Vukubi, sê ‘n tweede verdagte, ‘n 38-jarige man, is gister in Katlehong, Gauteng in hegtenis geneem en hy sal later vandag in die Pretoria Sentraal-Landdroshof verskyn:
Speel klankgreep :
# Die Namibiese Ministerie van Landbou, Water en Grondhervorming het ‘n beduidende deurbraak behaal deur marktoegang vir vleis en vleisprodukte na die Midde-Ooste te verseker. Die woordvoerder, Jona Musheko, sê slagpale wat goedgekeur is vir uitvoer, kan nou beesvleis uitvoer na Katar, terwyl dié suid van die Rooilyn goedkeuring gekry het om beide bees- en lamsvleis na die Verenigde Arabiese Emirate uit te voer. Hy sê onderhandelingsvergaderings het gefokus op invoervereistes, dieregesondheid en veeartsenykundige openbare gesondheid, wat noodsaaklik is vir die uitvoer van vleis:
Speel klankgreep:
# Motorsport: Die Mercedes-baas Toto Wolff sê hulle het ‘n beter begrip van die foute wat gelei het tot hul swak vertoning by die Brasiliaanse Grand Prix. Lewis Hamilton het sewende geëindig en George Russell moes hom aan die wedren onttrek weens oorverhitting van sy motor. Wolff sê hulle is hard aan die werk om die foute te identifiseer wat hulle met die voorbereiding in Sao Paulo gemaak het, ná belowende vertonings in die VSA en Mexiko. Hy sê, hulle sal dié naweek in Las Vegas beter moet vaar, want hulle wil die tweede posisie in die Vervaardigers-kampioenskap verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-684-dollar-10-sent. Die prys van goud is een-duisend-946-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….