Nuus 11:00
BULLETIN 28 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum striem minister Ntshavheni oor die wanvoorstelling van ’n vergadering oor plaasmoorde
# Die DA eis ‘n hersiening van Eskom se prysvasstellingsbeleid
# En die Kanadese premier sê Donald Trump het hul betrekkinge permanent verander
# AfriForum het die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, gekritiseer oor haar wanvoorstelling van ‘n vergadering tussen die organisasie en die polisie. AfriForum weerlê bewerings dat die organisasie erken het die plaasmoordstatistieke wat die minister van Polisie, Senzo Mchunu aangebied het, is akkuraat. Jacques Broodryk van AfriForum hou vol die vergadering is gehou om misdaad-data te vergelyk en nie om wit volksmoord te bespreek nie. Hy kritiseer Ntshavheni omdat sy die vordering ondermyn wat in gesprekke oor plaasaanvalle gemaak is:
# Die DA eis ‘n omvattende en deursigtige hersiening van Eskom se prysmodel weens ʼn tariefverhoging van 12,74-persent vir die kragvoorsiener se regstreekse klante wat Dinsdag in werking tree. Kevin Mileham van die DA sê die elektrisiteitsprysbeleid moet weer kyk hoe Eskom se grootmaat- en munisipale tariewe vasgestel word, en ʼn veiligheidsnet bied vir behoeftige gebruikers, wat munisipaliteite se rol verklein:
# SECTION27 en Cancer Alliance het die Hooggeregshof in Johannesburg se beslissing verwelkom oor die verskaffing van lewensreddende bestralingsbehandeling vir drie-duisend kankerpasiënte. Die hof het die Gautengse Gesondheidsdepartement se versuim om bestralingsbehandeling aan die pasiënte op die waglys beskikbaar te stel, as onregmatig en ongrondwetlik verklaar. Dit volg ondanks die toekenning van 784-miljoen-rand om die agterstand uit te wis. Die departement is beveel om binne drie maande ʼn vorderingsverslag in te dien oor ʼn langtermynplan om bestraling aan kankerpasiënte te gee.
# Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê sy land sal sy afhanklikheid van die Verenigde State ingrypend moet verminder omdat dié land nie meer ʼn betroubare handelsvennoot is nie. President Donald Trump het Woensdag aangekondig hy plaas ʼn heffing van 25-persent op ingevoerde voertuie en voertuigonderdele. Carney sê die jongste tariewe is onregverdig en skend bestaande handelsooreenkomste tussen die twee lande:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, speel môre teen die Amerikaner Jessica Pegula in die Miami Ope se eindstryd. Sabalenka het Jasmine Paolini van Italië afgeransel terwyl Pegula die Filippynse tiener, Alexandra Eala, se sprokies-segetog beëindig het. In die mansafdeling het die Serwiër Novak Djokovic na die halfeindronde deurgedring met sy oorwinning oor die Amerikaner Sebastian Korda. Nog ʼn Amerikaner, Taylor Fritz, die ongekeurde Tsjeg Jakub Mensik, en die Bulgaar Grigor Dimitrov is ook deur na die halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-688-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-84-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….