Nuus 11:00
BULLETIN 26 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die regering van nasionale eenheid moet geraadpleeg word oor die volgende ambassadeur in Amerika
# Minister Dion George ondersteun ‘n G20-plan om die oseane te beskerm en marienebesoedeling te bekamp
# En RISE Mzansi vra die regering om die dobbelkrisis in die land ernstig op te neem
# Die Vryheidsfront Plus sê president Cyril Ramaphosa beroep hom op die bepalings van die Grondwet in ‘n poging om ‘n nuwe ambassadeur na Amerika aan te stel en draai sy rug op die gees van samewerking in die regering van nasionale eenheid. Die president het gesê dit is nie nodig om met vennote in die regering te raadpleeg oor Ebrahim Rasool se plaasvervanger nie. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, sê Ramaphosa is vry om aan te stel wie hy wil binne die ooreengekome raamwerk van die regering van nasionale eenheid:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het ‘n sterk G20-plan uiteengesit om oseane te beskerm en marienebesoedeling te beveg. Afgevaardigdes sal mekaar later vanjaar persoonlik ontmoet in die Kruger-wildtuin en in Kaapstad. George het tydens die eerste virtuele vergadering van die Omgewing- en Klimaatvolhoubaarheidswerkgroep gesê dringende optrede is ndig om mariene-ekostelsels en kusgemeenskappe te beskerm, en veerkragtigheid teen klimaatsverandering te versterk:
# RISE Mzansi sê hy bly verbind tot dobbelhervorming in die land. Die Nasionale Dobbelraad sê daar is ‘n byna agtmalige toename in die aantal mense wat hulp soek. Makashule Gana van RISE Mzansi sê daar is sedert 2012 ‘n toename in probleemdobbel onder jongmense tussen 25 en 35 – die ouderdomsgroep wat in verhouding ook die meeste werkloosheid ondervind. Hy voeg by Suid-Afrikaners het in 2023/’24 een-duisend-miljard-rand aan dobbelbedrywighede bestee:
# Die wêreld se langsdienende terdoodveroordeelde, die voormalige Japanse beroepsbokser Iwao Hakamata, gaan rekord-vergoeding van 26-miljoen-rand ontvang. Die 89-jarige was langer as 40 jaar in die dodesel.. Hy is in 1968 ter dood veroordeel vir die moord op vier mense, maar nuwe getuienis het daartoe gelei dat hy in 2014 vrygelaat is hangende ‘n herverhoor, wat hom verlede jaar vrygespreek het. Die vergoeding is die meeste ooit vir ‘n onregmatige veroordeling in Japan. Hakamata se regspan sê egter dit kan nooit vergoed vir sy lyding nie.
# Krieket: Die Suid-Afrikaner Allahuddien Paleker en Alex Wharf van Engeland is ingesluit op die Internasionale Krieketraad se elite-paneel van skeidsregters vir 2025-’26. Paleker, wat die sewende Suid-Afrikaanse skeidsregter op die paneel is, het in vier toetse as veld-skeidsregter opgetree. In mans-krieket het hy 23 eendagwedstryde en 67 T20’s waargeneem, en was ook skeidsregter in 17 internasionale vroue-wedstryde. Paleker sê hy is trots om op die elite-paneel te dien, maar dis ook ‘n groot verantwoordelikheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-772-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-25-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….