Nuus 11:00
BULLETIN 19 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAL sê sy vlieëniers se sloerstaking is betreurenswaardig
# Die DA is steeds bekommerd oor SASSA se oorskakeling na swartkaarte
# En sokker: Afrika se sterkste spanne sit hulle stryd voort om vir die Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê hy betreur die besluit van die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging en die Nasionale Vervoerbeweging se Vlieëniersforum om met ‘n sloerstaking te begin. Die optrede gaan oor salarisverhogings. Die lugredery bied ‘n aanvanklike verhoging van 7,3-persent vanjaar, gevolg deur 7,6-persent volgende jaar en in 2027. Die vakbond eis egter 15,7-persent. SAL sê die aanbod is billik en vrygewig, veral gegewe sy finansiële uitdagings. Hy voeg by gebeurlikheidsmaatreëls is ingestel om die uitwerking van die arbeidsoptrede tot die minimum te beperk.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra ‘n onafhanklike ondersoek na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, in plaas van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat. Die VSA is bekommerd oor die teenstrydighede oor hoe OPOD die saak behartig, en sê die ondersoek moet regverdig en deursigtig wees. Claude Naiker van die organisasie versoek dat president Cyril Ramaphosa ‘n afgetrede regter aanstel om die ondersoek te lei en OPOD versterk om die publiek se vertroue in polisie-aanspreeklikheid te verseker.
# Die DA in die Wes-Kaap sê daar is steeds groot uitdagings vir ‘n gladde oorskakelingsproses vir begunstigdes van maatskaplike toelaes van hulle gouekaarte na die Posbank se swartkaarte. Al Sassa se gouekaarte verstryk môre. Meer as ‘n miljoen begunstigdes het nou reeds toegang tot die nuwe swartkaart. Wendy Kaizer-Philander van die DA sê hulle is steeds besorg oor die tekort aan Posbank-dienspunte in die provinsie:
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê die nuwe vlaag lugaanvalle teen Hamas-teikens in Gaza is maar net die begin. Minstens 413 mense is dood en 562 beseer in Maandag se aanvalle wat ‘n einde gebring het aan die brose skietstaking tussen Israel en Hamas. Netanyahu het sy voornemens herbevestig om aan te hou veg totdat alle gyselaars vrygelaat en Hamas vernietig is:
# Sokker: Afrika se sterkste spanne sit hierdie week hulle poging voort om te kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Bafana Bafana speel Vrydag in Polokwane teen Lesotho, terwyl Rwanda en Nigerië in Kigali kragte meet. Kameroen kom vandag teen Eswatini te staan in Mbombela, Suid-Afrika. Môre speel Mosambiek teen Uganda in Kaïro, Egipte. In ander wedstryde speel Liberië teen Tunisië, en die Sentraal-Afrikaanse Republiek teen Madagaskar. Nege plekke in die toernooi is bespreek vir spanne uit Afrika, en daar is ook ‘n inter-konfederasie-uitspeelplek beskikbaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-15-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en 40-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….