Nuus 11:00
BULLETIN 12 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Basiese Onderwys benodig 129-miljard-rand om sy infrastruktuur-agterstand uit die weg te ruim
# Wêreldleiers verwelkom Oekraïne se aanvaarding van ‘n voorgestelde skietstilstand met Rusland
# En tennis: Iga Swiatek is steeds op koers om haar titel in Indian Wells te verdedig
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê sowat 129-miljard-rand is nodig om die huidige landwye agterstand in noodsaaklike infrastruktuur by skole te hanteer. Dit sluit in die uitwissing van puttoilette, die vervanging van modderskole en onveilige strukture, en die voorsiening van noodsaaklike infrastruktuur soos lessenaars, behoorlike sanitasie, klaskamers en heinings. Gwarube sê ondanks die land se fiskale beperkings, kan die dringende behoefte aan belegging in skole-infrastruktuur nie geïgnoreer word nie:
Die Parlement se portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys het intussen herhaal geen leerder moet uit die skool gehou word omdat onderwysamptenare nie vir hulle plek kan vind nie. Die komitee het met amptenare van die Gautengse en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement vergader. Die Wes-Kaap moes teen einde verlede week nog plek vind vir 16 graad R-leerders en 18 graad 8-leerders vir die huidige skooljaar. In Gauteng is daar 99 leerders wat nog geplaas moet word. Die komitee vra deursigtigheid in die aansoekprosesse om regverdigheid en toegang te verseker.
# Die DA in Ekurhuleni het ‘n mosie van wantroue ingedien teen die EFF-speaker van die raad, Nthabiseng Tshivenga. Sy word beskuldig dat sy gebaat het by diensverskaffers se gunslone in ruil vir regeringstenders. Lucky Dinake van die DA sê Tshivenga is ook onlangs deur die Etiekkomitee skuldig bevind dat sy die gedragskode vir raadslede oortree het toe sy en lede van haar party DA-lede fisies aangerand het tydens ʼn vergadering:
# Wêreldleiers het Oekraïne se besluit verwelkom om ‘n Amerikaanse voorstel vir ‘n skietstaking van 30-dae met Rusland te aanvaar. Die Franse president, Emmanuel Macron, het die vordering verwelkom, maar sê Kiëf benodig stewige sekerheidswaarborge vir enige skietstaking. Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê dit is ‘n belangrike oomblik vir vrede in Oekraïne. Die Europese Unie se hoof van buitelandse beleid, Kaja Kallas, sê Rusland moet nou wys hy is gewillig om vrede te handhaaf:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, is deur na die kwarteindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika. Die wêreld-nommer-twee, wat probeer om die eerste te vrou te word om die toernooi drie keer te wen, het die Tsjeg Karolina Muchova 6-1, 6-1 afgeransel. Elina Svitolina van Oekraïne het die Amerikaner Jessica Pegula verslaan. In die mansafdeling het Holger Rune van Denemarke met die Griek, Stefanos Tsitsipas, afgereken en sy wenlopie van sewe wedstryde beëindig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-571-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-911-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….