Nuus 11:00
BULLETIN 11 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BLSA sê die begrotingsrede vind plaas in ‘n vinnig-veranderende geopolitieke omgewing
# OUTA ontbloot korrupsie in die padwaardigheidstoetsing van voertuie
# En die Filippyne se gewese president word in hegtenis geneem ingevolge ‘n lasbrief van die Internasionale Strafhof
# Business Leadership South Africa sê die vinnige veranderings in die geopolitiek beteken dat die begrotingsrede gelewer word in ‘n verskillende omgewing. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lê môre die begroting voor nadat dit verlede maand uitgestel is weens onenigheid oor ‘n voorgestelde verhoging van twee-persent in BTW. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê Amerika se onttrekking van befondsing beteken die regering sal deels voorsiening moet maak vir die agterstand. Sy sê die regering moet bestee waar dit belegging kan aanvuur.
People Against Budget Cuts verwerp intussen enige verhoging in BTW en eis ‘n einde aan besnoeiingsmaatreëls wat gemeenskappe negatief raak. Woordvoerder Busi Mtabane sê die regering moet sy belastingtoekennings heroorweeg en seker maak ekonomiese beleid dien die mense en nie net die elite nie:
# Die organisasie teen belastingmisbruik, OUTA, het wydverspreide korrupsie in Suid-Afrika se stelsel vir voertuigpadwaardigheidstoetse onthul. Die ondersoek dui aan dat sekere toetssentrums padwaardigheidsertifikate uitreik sonder om ‘n fisiese inspeksie te doen, dikwels in ruil vir omkoopgeld. Die organisasie se bevindings beklemtoon die gevaar vir die publiek se veiligheid, aangesien onpadwaardige voertuie bydra tot noodlottige ongelukke. Rudie Heyneke van Outa vra ‘n omvattende ondersoek en strenger regulasies:
# Die oudpresident van die Filippyne, Rodrigo Duterte, word aangehou nadat die Internasionale Strafhof ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik het vir misdade teen die mensdom. ‘n Wrede veldtog teen dwelms is tydens die 79-jarige se ampstermyn gevoer waarin meer as ses-duisend mense dood is. Die Strafhof sê hy het jurisdiksie oor Filippynse misdade voor die land in 2019 as lid onttrek het. Die organisasie Human Rights Watch sê Duterte se inhegtenisneming is ‘n belangrike stap tot aanspreeklikheid vir die land.
# Sokker: Manchester United se mede-eienaar, Jim Ratcliffe, sê die klub se geld sou teen Kersfees op gewees het as maatreëls nie ingestel is nie. ‘n Styging in sommige kaartjiepryse in die middel van die seisoen en die afdanking van honderde werknemers is onder die ongewilde maatreëls wat getref is. Ratcliffe het aan BBC Sport gesê hy is daarop ingestel om United die wêreld se winsgewendste klub te maak en om dit te doen, moes moeilike besluite geneem word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-239-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-901-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-8-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….