Nuus 11:00
BULLETIN 25 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê minister Tau moet vinnig ’n nuwe voorsitter vir die Loterykommissie aanstel
# Amerika se visepresident sê Rusland het beduidende toegewings aan Oekraïne gemaak
# En Tatjana Smith is die groot wenner op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings
# Die DA maan die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, om dringend ‘n nuwe voorsitter vir die Nasionale Loterykommissie aan te stel nadat Barney Pityana bedank het. Toby Chance van die DA sê Tau moenie sy voorganger, Ebrahim Patel, se fout herhaal nadat dit hom 18 maande geneem het om die gewese voorsitter, Alfred Nevhutanda, te vervang nie. Hy sê Pityana moet erkenning kry omdat hy die proses begin het om die kommissie te suiwer:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor die Staatsdiens en Administrasie is bekommerd oor berigte van ernstige onreëlmatighede in die Agentskap vir die Administrasie van Staatspensioene. Dit volg na die skorsing van ‘n senior finansiële bestuurder wat geweier het om twyfelagtige betalings van meer as 21-miljoen-rand goed te keur. Bewerings van ‘n spookkontrak ter waarde van byna ‘n miljard-rand het ook aan die lig gekom. Die komitee het ‘n gesamentlike ondersoek met die staande komitee oor Finansies versoek, aangesien die agentskap 1,7-miljoen werknemers se pensioene bestuur.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, en adjunkminister Reginah Mhaule, sal vandag die G20 se Nasionale Onderwys-indaba by Century City in Kaapstad aanbied. Die tema is Neem die G20 na die Mense, en die indaba sal fokus op gehalte-fundamentele leer deur middel van vroeë kinderversorging en -onderwys en professionele ontwikkeling van onderwysers. Insigte van al nege provinsies sal gedeel word voor die G20 Onderwyswerkgroep se ministeriële byeenkoms in Oktober.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, sê Rusland het aansienlike toegewings gemaak in samesprekings om sy oorlog teen Oekraïne te beëindig. Die Russiese minister van Buitelandse Sake, Sergey Lavrov, hou vol dat enige veiligheidswaarborge aan Oekraïne ook Rusland en sy grootste bondgenoot, China, moet betrek, sowel as Amerika, Brittanje en Frankryk. Vance het aan NBC gesê nóg sanksies kan teen Rusland ingestel word om die Kremlin te laat instem tot vrede, maar daardie besluite sal wissel van geval tot geval:
# Sportnuus: Die swemmer Tatjana Smith, wat vier Olimpiese medaljes ingepalm het, is op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings as Sportvrou en Sportster van die Jaar aangewys. Sy het uitgetree ná verlede jaar se Spele in Parys. Die fietsryer Alan Hatherly is Sportman van die Jaar, en Simoné Kruger en Mpumelelo Mhlongo Sportvrou en Sportman van die Jaar met gestremdhede. Die vier-maal-100-meter mans-aflosspan is Span van die Jaar danksy hul silwermedalje in Parys. Smith sê dit was spesiaal om die land te verteenwoordig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47 sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-61 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-995 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-367-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….