Nuus 11:00
BULLETIN 7 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Appèlhof gaan die NVG se saak oor Nulane-beleggings aanhoor
# Drie mense is dood en vier gewond in ‘n skietery in Sandton
# En koning Charles gaan sy persoonlike speellys deur Apple Music uitgee
# Die Appèlhof hoor vandag die Nasionale Vervolgingsgesag se aansoek aan om te appelleer teen die kwytskelding van die agt beskuldigdes in die Gupta-verbonde Nulane-beleggings-saak van 24,9-miljoen-rand. Dit hou verband met geld wat die Vrystaatse Departement van Landbou aan Nulane betaal het om ‘n lewensvatbaarheidstudie te onderneem vir die provinsie se Mohoma Mobung-projek. Die studie was die basis vir die Vrede-suiwelplaasbedrogspul. Onder die beskuldigdes is Gupta-vennote en Vrystaatse regeringsamptenare. Die NVG vra die Appèlhof vir ‘n herverhoor.
# Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge vra dat swart ekonomiese bemagting afgeskryf moet word, aangesien dit ekonomiese groei belemmer en slegs die elite met verbintenisse bevoordeel. Die organisasie het die Wêreldbank uitgenooi na samesprekings oor markvriendelike beleide na ‘n onlangse verslag deur die bank wat swart bemagtiging beskryf as ‘n beleid wat groei beperk. Makone Maja van die instituut sê Suid-Afrika benodig ‘n jaarlikse bruto binnelandse produk-groeikoers van sewe-persent, maar beleide soos swart bemagtiging ontmoedig beleggings:
# Drie mense is gisteraand by ‘n restaurant in Sandton, Johannesburg, doodgeskiet en vier gewond. ʼn Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê volgens voorlopige ondersoeke wou ʼn man met ʼn vuurwapen die restaurant binnegaan, maar dit word nie toegelaat nie. Sy sê ʼn onderonsie het uitgebreek wat tot ʼn skietery tussen die man se lyfwagte en veiligheidswagte gelei het. Sy sê niemand is nog in hegtenis geneem nie:
# Rugby: Frankryk se losskakel, Romain Ntamack, en die regtervleuel Damian Penaud is weer in die groep ingesluit vir môre se verwagte opwindende Sesnasies-kragmeting met die kampioen en voorloper op die punteleer, Ierland, in Dublin. Ntamack was geskors en Penaud is weggelaat vir die vorige toets teen Italië. Frankryk se hoofafrigter, Fabien Galthie, het weer sewe voorspelers en een agterspeler op die bank gekies – dieselfde taktiek wat gewerk het in hul weghol-oorwinning van 73-24 oor Italië. Hy sê dit pas die profiel van hul huidige beste spelers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-142-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-912-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-47-sent.
# En koning Charles het saam met Apple Music gewerk om sy eie speellys vry te stel, wat ‘n eksklusiewe blik gee op sy verhouding met musiek. Die King’s Music Room sluit kunstenaars in van alle vastelande en genres, onder andere Bob Marley, Kylie Minogue en Grace Jones, saam met kontemporêre talent soos Davido en Raye. Die koning se volle keuse van snitte sal Maandag vir Statebondsdag uitgegee word. Charles sê die liedjies het gehelp om die klankbaan van sy lewe te vorm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….