Nuus 11:00
BULLETIN 5 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ongeluk tussen ‘n bus en ‘n vragmotor in die Vrystaat eis tien lewens
# Die Vryemarkstigting sê die geringe groei in BBP gaan geen verskil maak aan werkloosheid nie
# En motorsport: Die Suid-Afrikaners Brian Baragwanath en Leonard Cremer word gediskwalifiseer van die Dakar-tydren
# Tien mense is vanoggend dood in ‘n botsing tussen ʼn bus en ʼn vragmotor op die N6 tussen Reddersburg en Smithfield in die Vrystaat. Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika het die bus gekontrakteer. ʼn Woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Paaie en Vervoer, Hillary Mophethe, sê meer as 20 mense is beseer:
# Die Vryemarkstigting sê die regering van nasionale eenheid moet dringend ingrypende strukturele hervormings instel om Suid-Afrika se ekonomiese potensiaal te ontsluit. Die land se bruto binnelandse produk het in die vierde kwartaal van verlede jaar met 0,6-persent gegroei na ‘n afname van 0,1-persent in die derde kwartaal. Die stigting sê die geringe groei in BBP is eenvoudig nie genoeg om die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid te pak nie. Hy sê die regering moet verreikende veranderings in werking stel wat ekonomiese vryheid bo burokratiese beheer stel.
# Die DA sê die politieke slenter van die MK-party om aanklagte van hoogverraad teen AfriForum te lê, is iets wat Suid-Afrika beswaarlik kan bekostig te midde van die onstuimige en veranderende politieke omgewing. Die MK beskuldig AfriForum dat hy buitelandse magte aanpor om teen die land op te tree. Die Valke het onthul hulle ondersoek vier sake van hoogverraad, vermoedelik teen AfriForum en Solidariteit. Willie Aucamp van die DA sê dit is nou tyd vir eenheid:
President Donald Trump van Amerika sê intussen sy regering het in 43 dae meer bereik as die meeste administrasies in vier of agt jaar, en hulle het nog net begin. Hy het sy eerste toespraak in die Kongres gehou sedert sy terugkeer na die Withuis. Trump sê van sy tasbare prestasies sluit in die uitvoerende bevele wat hy onderteken het, bevriesing van hulp aan die buiteland, minder onwettige immigrante wat oor die grens kom en die onttrekking aan internasionale organisasies. Hy sê Amerika se stukrag is terug:
# Motorsport: Die Suid-Afrikaanse span van Brian Baragwanath en mede-bestuurder Leonard Cremer se finale uitslag in die Dakar-tydren wat in Januarie in Saoedi-Arabië gehou is, is gediskwalifiseer. ‘n Brandstofmonster van hulle voertuig aan die einde van die eerste skof, het getoon dat dit nie aan regulasies voldoen nie. Verteenwoordigers van Century Racing Factory het aan ‘n verhoor gesê die bedoeling van die hoë-oktaan brandstof was nie om prestasie te verbeter nie, maar om die enjin te beskerm. Baragwanath en Cremer was algeheel tiende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-584-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-917-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….