Nuus 11:00
BULLETIN 4 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit sê die aantygings van hoogverraad teen hom is belaglik en ongegrond
# Julius Malema ontken ten sterkste dat hy met die ANC onderhandel oor ‘n verhoging in BTW
# En Donald Trump se tariewe teen Kanada, Mexiko en China het in werking getree
# Solidariteit sê die Valke se hoogverraadondersoek is niks meer as ‘n goedkoop politieke foefie nie. Die Valke het gister onthul dat vier sake van hoogverraad aanhangig gemaak is, volgens berigte teen AfriForum en Solidariteit. Dis oor die vermeende verspreiding van misleidende inligting in Amerika oor Suid-Afrika se beleid, insluitend die Onteieningswet. Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann, sê dis ʼn laagtepunt vir demokrasie:
# Die EFF-leier, Julius Malema, het berigte verwerp dat sy party met die ANC onderhandel oor die voorgestelde styging in BTW in die begroting. Volgens Sunday Times, het die ANC gewaarsku indien die DA nie ‘n voorgestelde BTW-styging van 0,75-persent aanvaar nie, sal hy by die EFF aanklop vir steun om die begroting volgende Woensdag deur te voer. Malema sê die regering se versuim om die begroting te laat aanvaar, beteken die land is op stuuroutomaat:
# Die munisipale vakbond Samwu in Ekurhuleni, Gauteng, het die stad se besluit veroordeel om oortyd met 50-persent te sny en gekontrakteerde dienste in te stel. Volgens die vakbond gee hierdie skuif voorkeur aan politieke belange bo werkers en inwoners. Hulle beskuldig die stad, wat deur ‘n ANC-koalisie beheer word, dat hulle dienste uitkontrakteer om politieke bondgenote te bevoordeel voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Samwu se streeksekretaris, Tshephang Langa, waarsku dat dit werksekerheid ondermyn, dienslewering verswak en die belastingbetaler se geld mors.
# President Donald Trump van Amerika se oorkoepelende tariewe van 25-persent teen Mexiko en Kanada tree vandag in werking en berei die weg vir ʼn handelsoorlog. Die tariewe volg op wat Trump beskou as die buurlande se roekelose hantering van die suidelike en noordelike grens, wat insluit dat fentaniel Amerika binnekom. Kanada het uit weerwraak tariewe van 25-persent op Amerikaanse invoere gehef. Tariewe op Chinese invoere is intussen van 10- tot 20-persent verhoog. Trump sê tariewe bring regverdigheid:
# Rugby: Skotland se hoofafrigter, Gregor Townsend, het Matt Currie, Nathan McBeth en Ben Muncaster in sy groep ingesluit vir die naweek se Sesnasieswedstryd teen Wallis op Murrayfield. Currie en Muncaster, van Edinburgh, en die stut McBeth van Glasgow word beloon vir goeie vertonings vir hulle klubs die afgelope naweek. Dit volg nadat Luke Crosbie en Jack Mann moes onttrek weens beserings. Skotland is tans vierde op die punteleer na die verdedigende kampioen, Ierland, Frankryk en Engeland, na slegs een oorwinning in sy vorige drie wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-73-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-887-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….