Nuus 11:00
BULLETIN 3 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf grensposte is gesluit weens oorstromings
# Die verhoor van die beskuldigdes in Joslin Smith se verdwyning begin vandag
# En krieket: Matthew Short van Australië is uit die Kampioenetrofee
# Die Grensbestuursowerheid het tydelik bedrywighede opgeskort by vyf grensposte weens ernstige oorstromings wat deur swaar reën veroorsaak is. Die poste wat geraak word is Stockpoort, Makgobistad, Bray, Groblersbrug en Pontdrift. Woordvoerder Mmemme Mogotsi sê reisigers en handelsoperateurs word aangeraai om die Ramatlabama-, Kopfontein-, Beitbrug- en Skilpadshek-grensposte as alternatiewe te gebruik vir oorgrensbewegings:
# Eskom sê eenheid twee van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad het gister onbepland uitgeskop terwyl dit op volle vermoë gewerk het. Dit het uitgeloop op die veilige afsluiting van die eenheid, maar dit sal na verwagting binne 48-uur weer by die nasionale netwerk ingeskakel word. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die eenheid het onverwags uitgeskop terwyl daar gewerk is aan eenheid een, wat tans van lyn is vir sy langtermyn-bedryfsprogram:
# Die verhoor van die drie beskuldigdes in die ontvoering- en mensehandelsaak van Joslin Smith begin vandag in die Rondgaande Hooggeregshof in Saldanhabaai in die Wes-Kaap. Die graad een-leerder van die Primêre Skool Diazville het op 19 Februarie verlede jaar uit die Middelpos-nedersetting verdwyn. Die beskuldigdes is Joslin se ma, Kelly Smith, haar kêrel, Jacquen Appollis, en hul vriend, Steveno van Rhyn. Die media word met streng beperkings toegelaat om die verhoor te dek.
# Die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, het erken dat sy land meer aan verdediging moet bestee. Kanada is een van net agt uit 32 NAVO-lande wat nie die perk van twee-persent op verdediging nakom nie. Die land het verlede jaar 1,37-persent van sy bruto binnelandse produk op verdediging uitgegee. Trudeau sê die tyd van vrede ná die Koue Oorlog is verby, en lande moet nou aansienlik meer aan verdediging bestee:
# Krieket: Die veelsydige Cooper Connolly is ingesluit in Australië se Kampioenetrofee-groep voor môre se halfeindstryd teen Indië. Die 21-jarige vervang die ster-aanvangskolwer Matthew Short, wat die res van die toernooi gaan misloop weens ‘n besering wat hy teen Afganistan opgedoen het. Australië het laas in 2011 se Wêreldbekertoernooi teen Indië verloor in ‘n uitklopwedstryd van die Internasionale Krieketraad. Die twee spanne het laas teen mekaar te staan gekom in 2023 se eendag-Wêreldbekereindstryd, wat Australië met ses paaltjies gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-655-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-864-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-79-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….