Nuus 11:00
BULLETIN 1 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU se bestuurskomitee neem kennis van AfriForum se vergadering met Amerikaanse amptenare
# Die African Security Congress vra groter aanspreeklikheid vir almal wat betrokke is by Eskom-verkrygingsprosesse
# En gholf: Norris van Suid-Afrika loop voor by Suid-Afrikaanse Ope
# Cosatu se sentrale bestuurskomitee het kennis geneem van die jongste nuus-hooftrekke dat ‘n afvaardiging van AfriForum weer eens Dinsdag vergader het met amptenare van die Amerikaanse regering. AfriForum en Solidariteit het fondse probeer inwin vir ‘n aparte Afrikanernedersetting en gemeenskapsinfrastruktuur in Suid-Afrika. Cosatu se woordvoerder Zanele Sabela sê die federasie herhaal sy standpunt en staan vas agter president Cyril Ramaphosa en die regering ter verdediging van Suid-Afrika se soewereiniteit en waardes:
# Die African Security Congress vra groter aanspreeklikheid vir almal wat betrokke is by Eskom se verkrygingsporsesse wat na bewering gelei het tot die ongeregverdigde toekenning van ‘n 500-miljoen-rand kontrak aan Fidelity Security Services. Die organisasie maak voorspraak vir die regte en belange van privaat sekerheidswagte in die land. Die president, Tebogo Motloung, sê dit is noodsaaklik dat diegene wat die stelsel gemanipuleer het om die kontrak te kry verantwoordelik gehou word vir hulle optrede. Hy vra die Nasionale Vervolgingsgesag om op te tree teen diegene wat die wet oortree het :
# Honderde-duisende mense het op die tweede herdenking van die land se dodelikste treinongeluk nog, in stede en dorpe regoor Griekeland saamgedrom om geregtigheid te eis en stakende werkers het vlugte lamgelê en see- en treinvervoer tot stilstand gebring. Altesaam 57 mense is dood toe ‘n passasierstrein met studente op 28 Februarie 2023 naby die Tempi-kloof in sentraal-Griekeland, met ‘n goederetrein gebots het. Twee jaar later is die veiligheidsgebreke wat tot die ongeluk aanleiding gegee het, nog nie aangespreek nie. ’n Afsonderlike geregtelike ondersoek is steeds nie afgehandel nie en niemand is skuldig bevind nie.
# Gholf: Shaun Norris van Suid-Afrika het gister die voortou geneem by die Suid-Afrikaanse Ope, terwyl sy landgenoot Dylan Naidoo ook ‘n mededinger bly met ‘n ronde van 61. Dale Whitnell van Engeland het beïndruk met twee kolhoue in ‘n enkele ronde by die Durbanse Buiteklub. Aan die einde van ‘n lang dag waarin die spelers die eerste ronde na ‘n opskorting moes afhandel en direk daarna met die tweede moes begin, het Norris sy eerste ronde afgesluit op 66 en in sy tweede ronde 64 aangeteken vir ‘n algehele voorsprong van 14 onder baansyfer.
# En ten slotte: Die EFF wens die Moslemgemeenskap in Suid-Afrika en die wyer wêreld die beste toe aan die begin van die heilige maand Ramadan. Dit is ‘n tyd vir diep oordenking, selfdissipline en toewyding, wanneer miljoene Moslems vas en bid as ‘n simbool van hulle geloof en onderdanigheid. Ramadan word herdenk in die maand waarin die Heilige Koran onthul is aan die profeet Mohammed. Die EFF vra werkplekke om Moslem-werkers tegemoet te kom en te verseker dat hulle met waardigheid behandel word en die nodige tyd toegelaat word vir gebede en die breek van die vas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….