Nuus 11:00
BULLETIN 26 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum en Solidariteit vergader met die Trump-administrasie
# Die uitvoerende hoof van Eskom sê hulle het waardevolle lesse geleer uit die onlangse vlaag beurtkrag
# En drie oud-leiers van Afrika gryp in in die geweld in die DRK
# ‘n Afvaardiging van AfriForum en Solidariteit het in die Withuis in Washington met verteenwoordigers van die Trump-administrasie vergader. Die organisasies het Amerika gevra om druk te plaas op die Suid-Afrikaanse regering oor plaasmoorde, die Onteieningswet en die BELA-wet. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê die regering se gebrek aan erns om diplomatieke bande met Amerika te herstel, skep ʼn al groter krisis vir Suid-Afrika:
# Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê hulle bly gefokus om beurtkrag te stop omdat dit nadelig inwerk op die ekonomie. Fase ses-beurtkrag is die afgelope naweek ingestel nadat tien eenhede by groot kragstasies uitgeskakel het. Beurtkrag is tans opgeskort nadat opwekkingsvermoë herstel is. Marokane sê waardevolle lesse is geleer met die uitskakeling van eenhede wat onverwant en suiwer tegnies was. Hy sê hulle is daartoe verbind om betroubare kragvoorsiening te verseker.
# Die DA in die Stad Ekurhuleni sê hy ondersteun die IVP se mosie van wantroue in die raad se EFF-speaker, Nthabiseng Tshivhenga. Sy is in die moeilikheid omdat sy volgens berigte nie seker maak raadsvergaderings is vry van politieke binnegevegte en fisiese onderonsies nie. Brandon Pretorius van die DA sê onlangse bewerings van ampsoortredings, omkopery en moontlike bedrog in Tshivhenga se kantoor dra by dat sy uit haar amp verwyder moet word:
# Afrika-lande het drie oud-leiers aangewys om toesig te hou oor die vredesproses in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. ‘n Ondersoeker van die Internasionale Strafhof gaan ook die toename in geweld ondersoek. Die voormalige president van Kenia, Uhuru Kenyatta, Ethiopië se gewese eerste minister, Hailemariam Desalegn, en die gewese Nigeriese president, Olusegun Obasanjo, moet die nuwe vredesproses bemiddel. Die Rwandees-gesteunde M23-rebelle het onlangs twee groot stede oorgeneem wat aan hulle ‘n belangrike vastrapplek gee nadat hulle in 2021 weer die wapens opgeneem het.
# Rugby: Die haker Dewi Lake is opgeroep na Wallis se kamp vir hul oorblywende Sesnasies-wedstryde teen Skotland en Engeland, nadat hy van ‘n boarmspier-besering herstel het. Lake, wat Wallis verlede jaar tydens die toer na Australië aangevoer het, het in Desember ’n operasie ondergaan. Hy sou aanvanklik 12 weke buite aksie wees. Die 25-jarige, wat reeds 18 keer vir Wallis uitgedraf, is egter voor skedule met sy herstelproses. Wallis het tot dusver al drie sy wedstryde in vanjaar se kompetisie verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-97-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-911-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….