Nuus 11:00
BULLETIN 25 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet het volgens berigte minister Godongwana se hersiene begroting verwerp
# ’n Versoek dat die gewese Amerikaanse president, Joe Biden, ondersoek word vir die ondersteuning van oorlogsmisdade in Gaza
# En motorsport: Die MotoGP-kampioen moet nog ‘n operasie ondergaan en gaan die eerste wedren van die seisoen misloop
# Die kabinet het volgens berigte die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se hersiene begroting verwerp, wat die voorgestelde verhoging van twee-persent in BTW uitsluit, en noem dit ontoepasbaar. Gister se spesiale kabinetsvergadering moes die partye in die regering van nasionale eenheid se geskille oor die uitgestelde begroting uit die weg ruim. Volgens News24 sluit items wat uitgesny kan word, 23-miljard-rand in vir ‘n salaris-verhoging van 5,5-persent, en meer as 29-miljard-rand om werklose dokters in diens te neem. ‘n Kabinet-subkomitee onder leiding van adjunkpresident Paul Mashatile moet die moontlikhede oorweeg.
Die SAKP vra intussen groter befondsing vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om 800-miljard-rand se belasting-inkomste te herwin wat jaarliks verlore gaan. Die party verwerp ‘n BTW-verhoging en vra strenger beheer oor onwettige finansiële vloei en winsverskuiwing. Hulle beplan massa-optrede wanneer die begroting volgende maand in die Parlement ter tafel gelê word. Alex Mashilo van die SAKP sê die begroting moet die werkersklas ondersteun, die Nasionale Gesondheidsversekering befonds, en staatsbeheerde ondernemings herstel.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi se provinsiale rede was vol leë beloftes, in plaas van praktiese oplossings vir die talle uitdagings waarvoor inwoners staan. Lesufi 13 belangrike knelpunte uitgelig om die provinsie te herstel, waaronder werkloosheid, misdaad en die infrastruktuur wat ineenstort. Die DA se provinsiale leier, Solly Msimanga, sê Lesufi het nagelaat om te sê die 13 kwessies is probleme wat deur die ANC veroorsaak is:
# ‘n Organisasie sonder winsbejag in Amerika, Democracy for the Arab World Now, vra die Internasionale Strafhof om oudpresident Joe Biden te ondersoek vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Gaza. Die groep wil ook hê die hof moet vasstel of die voormalige minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, en die gewese minister van Verdediging, Lloyd Austin, Israel bygestaan het om na bewering oorlogsmisdade te pleeg. Die organisasie se uitvoerende direkteur, Sarah Leah Whitson, sê die amptenare het artikels van die Statuut van Rome en die Strafhof se stigtingsmanifes oortree deur Israel te ondersteun:
# Motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen, Jorge Martin, sal die naweek se eerste Grand Prix van die seisoen in Thailand misloop na ‘n nuwe besering tydens oefeninge in sy geboorteland. Die 27-jarige Spanjaard is vroeër die maand geopereer nadat hy sy regterhand en -voet gebreek het in ‘n botsing in Maleisië. Martin se nuwe span, Aprilia, sê hy het nou sy linkerhand gebreek en word vandag in Barcelona geopereer. Die hersteltyd sal na die operasie beoordeel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-267-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-936-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-54-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….