Nuus 11:00
BULLETIN 23 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika kan dalk teen Oktober van die gryslys verwyder word
# Frank Chikane vra ‘n boikot teen Israel
# En rugby: Die Blitsbokke pak Fidji in die halfeindronde in Vancouver
# Die Finansiële Aksie-taakspan het vier van Suid-Afrika se ses agterstallige aksie-items opgegradeer. Volgens die Nasionale Tesourie kan die land in Oktober van die gryslys verwyder word aangesien 20 van die 22 items uitgeklaar is. Die Tesourie bevestig dat die owerhede aanhou met pogings om ondersoeke ten opsigte van geldwassery en terrorisme-finansiering te verbeter. Die reguleerder het die vooruitgang erken, maar versoek verdere optrede voor die einde van die volgende rapporterings-periode in Junie. Die Tesourie het reguleerders se voortdurende pogings verwelkom.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor swaar donderstorms in verskeie provinsies vandag. Dit sluit in Limpopo, die Vrystaat, Noord-Wes en KwaZulu-Natal. Moontlike vloede, hael en sterk wind word verwag. Die Noord-Kaap mag omstandighede ondervind wat kan lei tot veldbrande. Gauteng, Mpumalanga en Limpopo sal verspreide buie ervaar, terwyl mis en ligte reën in kusgebiede mag voorkom. Die weer-waarskuwing beklemtoon moontlike ontwrigting vir reisigers.
# Die stryd-veteraan Frank Chikane het gevra vir ‘n boikot van alle goedere van en na Israel. Hy het op die Palestynse Solidariteitsveldtog se saamtrek in Kaapstad die Amerikaanse president, Donald Trump, se oproep veroordeel vir Palestyne se gedwonge verskuiwing uit Gaza, en vra aanspreeklikheid vir wat hy volksmoord noem. Chikane het internasionale optrede gevra om Israel se apartheids-regime te verwyder:
# ‘n Jong vlugteling van Sirië verskyn vandag in ‘n Berlynse hof nadat ‘n Spaanse toeris met ‘n skerp voorwerp gesteek is naby die Duitse hoofstad se Joodse Volksmoord-gedenkteken. Die 30-jarige toeris is in ‘n ernstige toestand hospitaal toe geneem, maar dokters sê hy is buite gevaar. Die verdagte is 19. Dis nie duidelik of die twee mans mekaar geken het of wat die motief mag wees nie. Die gedenkteken vir die ses-miljoen Jode wat die Nazi’s gedurende die Tweede Wêreldoorlog vermoor het, is die stad se heiligste terrein.
# Rugby: Suid-Afrika speel vanaand teen die voorloper op die wêreldreeks se punteleer, Fidji, in die halfeindronde van die Vancouver Sewes. Die Blitsbokke het Nieu-Seeland en Ierland verslaan voordat hulle 12-17 teen Australië verloor het in hulle laaste groepswedstryd. Hulle het die Aussies egter in die kwarteindronde 17-14 geklop danksy drieë deur Ronald Brown, Ryan Oosthuizen en Shilton van Wyk. Vanaand se ander halfeindstryd is tussen Argentinië, wat tans tweede op die punteleer is, en die derde geplaasde Spanje. Suid-Afrika is vierde op die punteleer.
# En padwedlope: Meer as 600 polisielede, insluitend nasionale kommissaris Fannie Masemola, neem vandag aan die Pretoriase marathon deel. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê hulle is ingeskryf in verskillende afdelings, en die meeste kom van KwaZulu-Natal. Sy beklemtoon die polisie dring aan op fiksheid en geestelike welstand en gee lede weekliks oefenkans:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….