Nuus 11:00
BULLETIN 20 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryemarkstigting sê die regering moet sy staatsbesteding verminder
# Eskom werk saam met sekerheidstrukture om misdaad teen sy werknemers te bekamp
# En die DRK vra sanksies teen Rwanda
# Die Vryemarkstigting sê die uitstel van die begrotingsrede gee die minister van Finansies, Enoch Godongwana, tyd om ‘n begroting op te stel wat meer gepas is vir die huidige ekonomiese toestand in Suid-Afrika. Partye in die regering van nasionale eenheid het die minister se voorstel verwerp om BTW met twee-persent te verhoog. Dit het veroorsaak dat die begrotingsrede tot 12 Maart uitgestel is. Die stigting sê die regering moet binne sy vermoë leef en staatsbesteding doelgerig besnoei eerder as om belasting te verhoog.
Save SA veroordeel intussen die uitstel van die begrotingsrede en noem dit verraad teen die armes en die werkersklas. Die groep beskuldig die ANC-DA-koalisie dat hy partybelange bo dié van burgers stel. Save SA se woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê die vertraging weerspieël ernstige beleidsverskille en hy bevraagteken waarom belastingbetalers se geld op voorbereidings gemors is. Hy sê die uitstel ondermyn ekonomiese bestendigheid:
# Eskom werk nou saam met die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur om die golf van geweldsmisdaad teen sy werknemers te bekamp. Die kragvoorsiener sê die misdadigers is gewelddadig en gebruik vuurwapens om maatskappy- en privaat voertuie te kaap, werknemers te beroof en hulle selfs vas te bind. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die staatsonderneming het ‘n regstreekse finansiële verlies van 2,6-miljoen-rand gely as gevolg van die misdaad:
# Die Demokratiese Republiek die Kongo vra die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad om sanksies in te stel teen politieke besluitnemers en bevelvoerders van die Rwandese Weermag. Dit gebeur terwyl die Rwandees-gesteunde M23-groep vordering maak in strategiese sones in die oostelike DRK nadat hulle Goma en Bukavu ingeneem het. Die DRK se minister van Buitelandse Sake, Thérèse Kayikwamba Wagner, sê die Veiligheidsraad moet ook onmiddellik Rwanda se status herroep as land wat soldate beskikbaar stel vir VN-vredesendings, en wapenverkope aan die land streng monitor.
# Sokker: Manchester United se inkomste het in die vorige finansiële kwartaal met 12-persent gedaal, hoofsaaklik weens die vertrek van die hoofafrigter, Erik ten Hag. Die Engelse klub toon van Oktober tot Desember ‘n inkomste van 4,6-miljard-rand teenoor 5,3-miljard die vorige jaar. Ten Hag se afdanking het United glo 243-miljoen-rand gekos, terwyl daar ook ‘n afname van 42-persent in uitsaai-inkomste was. Kommersiële inkomste het wel met 18,5-persent gestyg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-825-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-948-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….