Nuus 11:00
BULLETIN 19 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sê neoliberalisme en begrotingsbesnoeiings sal nie werk skep nie
# Action Society verwerp ‘n geleidelike benadering tot die nasionale seksoortrederregister
# En die Gautengse Drankraad skort die Zanzou-nagklub in Pretoria se lisensie op
# Die vakbondfederasie, Saftu, sê die regering van nasionale eenheid staan steeds neo-liberale ekonomiese beleide voor wat volgens hulle werkskepping ondermyn. Die uitgebreide werkloosheidskoers vir die vierde kwartaal van 2024 bly onveranderd op 41,9-persent. Saftu se woordvoerder, Newton Masuku, sê in aanloop tot die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede vandag, eis hulle ‘n onmiddellike omkeer van besnoeiingsmaatreëls, en die aanvaarding van ʼn dapper, werker-gesentreerde ekonomiese program:
# Action Society verwerp die gefaseerde benadering vir openbare toegang tot die nasionale register vir seksoortreders van die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi. Die organisasie voer aan die register bly grootliks ontoeganklik en is slegs beskikbaar vir werkgewers en nie die publiek nie, wat nie voldoen aan internasionale standaarde nie. Die woordvoerder van Action Society, Juanita du Preez, sê die beskerming van oortreders ingevolge privaatheidswetgewing is onaanvaarbaar:
# Die Gautengse Drankraad het die gewilde nagklub Zanzou in Pretoria se dranklisensie met onmiddellike ingang teruggetrek. Dit volg ná video’s waarop besoekers by die nagklub mishandel, gemartel en seksueel aangerand word. Sommige slagoffers het strafregtelike sake by die polisie aanhangig gemaak en die polisie soek na minstens agt verdagtes. Die raad sê hierdie voorvalle wek ernstige kommer oor veiligheid en wettige bedrywighede op die perseel. Hy voeg by Zanzou se lisensie sal opgeskort bly tot die amptelike ondersoek afgehandel is.
# Rugby: Australië sluit sy jaareindtoer in die Noordelike Halfrond af teen Engeland, Italië, Ierland en Frankryk. Joe Schmidt se span pak Engeland op 1 November op Twickenham, en speel ‘n week later die eerste keer in drie jaar teen Italië. Dan kom hulle die 15de in Dublin teen Ierland te staan voor hulle die toer op 22 November afsluit teen Frankryk. Rugby Australië se uitvoerende hoof, Phil Waugh, sê die Wallabies sien uit daarna om met die beste in die Noordelike Halfrond kragte te meet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-623-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-931-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-82-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die hertogin van Sussex, Meghan Markle, het haar leefstylhandelsmerk, American Riviera Orchard, opnuut bekend gestel as As Ever. Die produkte strek van juweliersware, troeteldierkos en joga-toerusting, tot huisversiering en kookboeke. Haar Netflix-program, With Love, Meghan, wat volgens die aanlyn diens die leefstyl-genre herverbeel, word oor twee weke van stapel gestuur. Markle sê As Ever is ‘n handelsmerk wat sy geskep het en sy het haar hart daarop uitgestort:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….