Nuus 11:00
BULLETIN 18 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM eis aanspreeklikheid vir die Vergoedingsfonds se mislukkings
# Numsa gaan by ArcelorMittal en SA Steel Mills betoog
# En die polisie soek agt buitelanders in verband met die voorval by die Zanzou-nagklub in Pretoria
# Die United Democratic Movement kritiseer die voortslepende mislukkings van die Vergoedingsfonds, nadat die ouditeur-generaal dit uitgewys is. Oudits van die fonds misluk reeds vir 12 jaar, wat beseerde werkers sonder vergoeding laat. Volgens die party sluit bewerings van bedrog betalings aan ongeregistreerde rekeninge en ‘n gepeuter met die logaritmes van die stelsel in. Die waarnemende sekretaris-generaal, Zandile Phiri, eis dringende hervormings, ’n parlementêre ondersoek en aanspreeklikheid vir amptenare wat by wanbestuur betrokke is. Die party dring daarop aan dat beseerde werkers tydige vergoeding ontvang, en sê hy sal voortgaan om hom vir geregtigheid te beywer.
# Die metaalwerkersvakbond NUMSA gaan hierdie week betoog by die Nywerheidsontwikkelingskorporasie om dringende ingryping met die dreigende afleggings by ArcelorMittal Suid-Afrika te eis. NUMSA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, waarsku die beplande afskaffing van drie-duisend-500 poste sal die waardeketting nadelig beïnvloed. Sy sê werkers van SA Steel Mills sal by die versetoptrede aansluit om vinnige oplossings en onbetaalde lone te eis:
# Die polisie soek na agt buitelandse burgers in verband met ʼn gewelddadige voorval by die Zanzou-nagklub in Hatfield, Pretoria. Dit volg nadat video’s aan die lig gekom het wat wys hoe ʼn groep mans by die klub gemartel en aangerand word. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die drie slagoffers van die aanranding het ʼn saak by die Brooklyn-polisiekantoor aanhangig gemaak. Sy sê die hoofaanklagte is verkragting, aanranding, naamskending, intimidasie en ontvoering:
# Rusland sê enige blywende vredesooreenkoms in Oekraïne vereis ‘n gedemilitariseerde en neutrale staat wat nie deel is van enige blok of alliansie nie. Senior Amerikaanse en Russiese diplomate onderhandel vandag in Saoedi-Arabië oor pogings om die oorlog in Oekraïne te beëindig. Rusland se vaste verteenwoordiger by die Verenigde Nasies, Vasily Nebenzya, sê die Europese Unie kan nie enige ooreenkoms met Moskou sluit nie en kan nie deel wees van enige toekomstige ooreenkomste oor die oorlog in Oekraïne nie. Hy beskuldig die lande dat hulle verblind word deur “Russiefobie”.
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, sê die meerderheid spelers voel Jannik Sinner se ligte skorsing is onregverdig en die groot name in sport word voorgetrek. Die Italiaanse wêreld-nommer-een het ʼn onmiddellike skorsing van drie maande aanvaar nadat hy ʼn ooreenkoms met die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport bereik het oor sy twee positiewe opkikkertoetse verlede jaar. Djokovic sê die stelsel moet hersien word om te keer dat spelers laer op die punteleer anders behandel word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-39-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-914-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….