Nuus 11:00
BULLETIN 17 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê infrastruktuurontwikkeling is ‘n strategiese voorkeur
# Die president van SA Rugby sê die borgskaps-ooreenkoms met Monster Energy is broodnodig
# En ontwrigtende reën sal tot Donderdag voortduur in talle dele van die land
# President Cyril Ramaphosa sê baie meer bouwerk en betroubare instandhouding van infrastruktuur is nodig om groei te bewerkstellig sodat genoeg werksgeleenthede geskep kan word. ‘n Onlangse verslag deur Nedbank toon die openbare en privaat sektor het verlede jaar altesaam 445-miljard rand se nuwe projekte aangepak. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief 34 van 50 strategiese infrastruktuurprojekte ten bedrae van 281-miljard-rand is in hul aanvangsfase. Ramaphosa sê die Ekonomiese Infrastruktuurtaakspan maak ook goeie vordering met hul optrede teen die boubedryf-mafia.
# Die vakbondfederasie Cosatu is bekommerd oor die spanning tussen Suid-Afrika en die Amerikaanse regering. Dit volg nadat president Donald Trump hulpbefondsing aan Suid-Afrika gestaak het weens die land se onteieningsbeleid, en dat tariewe geplaas kan word op Suid-Afrika en ander lande se uitvoere. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle het volle vertroue in die regering se bestendige en gedissiplineerde leierskap tydens die stormagtige geopolitieke spanning:
# Die Stad Ekurhuleni in Gauteng het inwoners verseker hul krag sal nie afgesny word nie. Eskom het die naweek ‘n kennisgewing uitgereik wat die metro waarsku dat uitgebreide kragonderbrekings kan voorkom weens onbetaalde elektrisiteitsrekeninge. Ekurhuleni skuld die kragverskaffer tans meer as 2,3-miljard-rand, uitgesluit sy huidige rekening van 1,5-miljard-rand wat teen 7 Maart betaal moet word. Die metro sê hy betaal sy huidige elektrisiteitsrekening en werk daaraan om spoedig die betwiste deel te vereffen.
# Die president van SA Rugby, Mark Alexander, sê die ooreenkoms vir die nuwe vierjaar-borgskap van Monster Energy sal bykomende finansiële steun verleen. Die provinsiale unies het in Desember ‘n aanbod verwerp van die Ackerley-sportgroep in Seattle, Amerika, vir ‘n aandeel van 20-persent in SA-Rugby se kommersiële regte-maatskappy, wat die waarde van sy kommersiële bedrywighede verhoog. Alexander sê dit is ‘n groot probleem om nie ‘n reserwefonds te hê nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-415-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-898-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ontwrigtende reën sal tot Donderdag voortduur in die sentrale en oostelike dele van die land. Sowat 20 tot 50 millimeter reën word in provinsies soos Noordwes, Gauteng, die Vrystaat en Mpumalanga verwag. Weervoorspeller Lehlohonolo Thobela sê vogtige, tropiese lug uit ʼn kontinentale laagdruk bo Botswana is die hoofoorsaak van die huidige bewolkte en reënerige toestande:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….