Nuus 11:00
BULLETIN 23 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister De Lille stel ‘n tussentydse raad vir SA Toerisme aan
# Die polisie het op 226 vuurwapens in Krugersdorp beslag gelê
# En AfriForum waarsku teen lewensgevaarlike wegholbrande die naweek
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het ‘n tussentydse raad van ses lede aangestel om toesig te hou oor Suid-Afrikaanse Toerisme, na die ontbinding van die vorige raad oor die beweerde onwettige skorsing van die uitvoerende hoof Nombulelo Guliwe. Mzamo Masito is as voorsitter aangewys, met Kholeka Zama as adjunk. Die departement se woordvoerder Aldrin Sampear sê die paneel bring uiteenlopende kundigheid in finansies, regswese en toerisme. Hy sê die minister sal benoemings vir permanente raadslede open:
# Die polisie in Gauteng het deur Operasie Vuyisa op 226 vuurwapens beslag gelê en ‘n beampte van ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy in Krugersdorp in hegtenis geneem. Volgens die owerhede voldoen die maatskappy nie aan die Wet op Vuurwapenbeheer nie. Sommige van die vuurwapens word na bewering betrek by kriminele aktiwiteite insluitend transitorooftogte. Die polisiewoordvoerder Amanda van Zyl sê die ondersoek duur voort en meer arrestasies kan nie uitgesluit word nie in die lig van verdere inspeksies by sekuriteitsmaatskappye:
# AfriForum waarsku oor die gevaar van lewensgevaarlike wegholbrande in sewe provinsies die naweek weens uiterste hitte, droë toestande en sterk wind. ‘n Vlak rooi-waarskuwing is uitgereik vir Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap. ‘n Woordvoerder Tarien Cooks het inwoners gevra om oop vure te vermy en brandbestrydings-toerusting en watervoorraad byderhand te hou:
Die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Wêreldmeteorologiese Organisasie waarsku intussen oor die toenemende gesondheidsrisiko’s vir werkers as gevolg van uiterste hitte. In ‘n gesamentlike verslag het hulle aangedui dat produktiwiteit met twee-tot-drie-persent afneem vir elke graad bo 20-grade Celsius, met gepaardgaande risiko’s soos sonsteek, dehidrasie en nierversaking. Die verslag dui aan dat amper helfte van die wêreld se bevolking hitte-verwante gevolge ondervind. Hulle moedig regerings, werkgewers, en unies aan om hitte gesondheidsbeleide in te stel om werkers te beskerm en om veerkragtigheid teen klimaatsverandering te versterk.
# En sportnuus:
# Gholf: Jonathan Broomhead het sy vierde Sonskyntoer-titel binne 16 maande verower nadat hy Jean-Paul Strydom Vrydag in ‘n uitspeelwestryd op die eerste putjie in die Sunbet-uitdaging by die Wingatepark-buiteklub geklop het. Broomhead en Strydom het hul gewone spel gelykop in die eerste plek op 13 onder baansyfer voltooi na hul onderskeie laaste rondes van 68 en 71. Broomhead se oorwinning plaas hom in tweede plek op die Sonskyntoer se Meriete-orde. Herman Loubser, die huidige Meriete-ordevoorloper het gesamentlik 13de geëindig op agt onder baansyfer.
# En rugby: Die Springbok assistentafrigter, Mzwandile Stick en kaptein Jesse Kriel het Vrydag gesê die span gaan met ‘n sterk teenaanslag kom ná hulle teleurstellende vertoning verlede week teen die Wallabies. Hulle verwag ‘n sterk aanslag van die besoekers en het gesê die atmosfeer in die kamp vroeër in die week was soos om by ‘n begrafnis te wees nadat hulle met 38-22 teen die Wallabies in Johannesburg verloor het. Kriel sê hulle het hard gewerk om hulle foute reg te maak. Stick sê elke wedstryd tel en hulle wil sterk herstel om Suid-Afrika weer trots te maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….