Nuus 11:00
BULLETIN 15 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Vrouepolisiebeampte van Limpopo verskyn in die hof vir die beweerde moord op haar seun en sy meisie
# Die DA eis duidelikheid oor die twee-miljard-rand wat die SAPD aan Openbare Werke skuld
# En tennis: Nadal loof Schwartzman na sy uittrede
# ‘n Vrouepolisiebeampte van Limpopo verskyn Maandag in die Landdroshof in Morebeng vir die beweerde moord op haar 26-jarige seun en sy 16-jarige meisie. Die polisiewoordvoerder Malesela Ledwaba sê die 49-jarige beampte is Donderdagnag in hegtenis geneem nadat sy haar seun by die huis in Mokomeme doodgeskiet het en sy meisie gewond het na ‘n heftige argument met haar seun. Hy sê die meisie is gister in die hospitaal aan haar beserings dood:
# Die DA sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens het moontlik die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie mislei oor sy skuld aan die Departement van Openbare Werke. Die nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, beweer daar is geen agterstallige skuld nie, maar dit het aan die lig gekom dat die SAPD ongeveer twee-miljard-rand skuld. Die DA-lid, Dianne Kohler Barnard sê polisiestasies is vervalle en speurdienste worstel met ‘n gebrek aan hulpbronne:
# Die studenteraad van die Universiteit van Pretoria het A Re Ageng Bokamoso aangekondig, ‘n studente-geleide fondsinsamelingsveldtog wat vyf-miljoen-rand wil insamel om studente te steun wat finansieel sukkel. Die president van die raad Vhutshilo Muambadzi sê met registrasie vir die akademiese jaar wat op 21 Februarie sluit, is tydige steun lewensbelangrik om seker te maak dat studente wat finansieel swaarkry, kan inskryf en hulle studies sonder ontwrigting voortsit:
# Tennis: Die Spaanse meester Rafael Nadal het sy jarelange teenstander, Diego Schwartzman, geloof nadat die Argentyn sy uittrede aangekondig het. Die 32-jarige kon nooit hond haar-af maak teen die Spanjaard nie en kon hom net een keer in 12 ontmoetings klop. Nadal, wat sy roemryke loopbaan einde verlede jaar afgesluit het, sê egter Schwartzman was ‘n puik voorbeeld van hoe om uitdagings te oorkom, en hulle het vele oomblikke op die baan gedeel. Verskeie ander spelers, insluitend die Duitser Alexander Zverev en die uitgetrede Oostenryker Dominic Thiem, het Schwartzman ook geloof.
# En, ‘n 24-jarige man van Venezuela, Adrián Simancas, het in sy kajak geroei in Bahía El Águila in die straat van Magellan toe ‘n walvis hom en sy geel kajak ‘n paar sekondes lank in sy bek gehad het voor hy hom uitgespoeg het. Simancas se pa, Dell, wat saam met hom geroei het, het die voorval afgeneem. Adrián is ongedeerd en as sy pa nie die bewys van die voorval gehad het nie, sou sy storie moontlik moeilik gewees het om te glo. Adrián sê hy’t gedink sy dae is getel nadat hy ingesluk is en dat die walvis hom geëet het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….