Nuus 11:00
BULLETIN 14 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum verwerp beskuldigings dat hy rasseverdeeldheid saai
# Die Verenigde Nasies sê dis ‘n reuse-taak om Gaza weer op te bou
# En motorsport: Lando Norris is gereed vir die F1-bestuurderskampioenskap
# AfriForum verwerp ten sterkste beskuldigings deur ANC-leiers, insluitende presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya, wat aanvoer dat die organisasie rasseverdeeldheid aanmoedig. Die menseregte-organisasie sê hulle werk aktief daaraan om lewensomstandighede oor kultuurgrense te bevorder, in teenstelling met die ANC se verdelende optrede en stellings. Barend Uys van AfriForum verdoem die aanstootlike taal wat regeringsamptenare gebruik en wys op die belangrikheid van wedersydse respek en eenheid tussen verskillende kultuurgroepe:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys het kommer uitgespreek oor die voortslepende verval by die Nasionale Vaardigheidsfonds en sê die instelling is nie besig om sy stelselprobleme op te los nie. Die fonds het in die 2023/’24-boekjaar 3,7-miljard-rand onderbestee. Die komitee se voorsitter, Tebogo Letsie, sê die onderbesteding is veral kommerwekkend teen die agtergrond van die hoë werkloosheidsyfer onder die jeug. Hy voeg by dis duidelik dat die fonds swak toegerus is om ʼn betekenisvolle bydrae te lewer om die land se gebrek aan vaardighede te hanteer.
# ActionSA in Johannesburg eis duidelikheid oor die tender van 194-miljoen-rand vir die herstel van Lilian Ngoyi-straat wat toegeken is aan Korone Engineering te midde van bewerings oor onreëlmatighede. Die straat is gesluit sedert ‘n gasontploffing in Julie 2023. Zark Lebatlang van ActionSA sê hulle het vasgestel Korone Engineering behoort aan ‘n Suid-Afrikaanse burger in vennootskap met ‘n Nigeries-gebore ingenieur, George Olugbenga, en sy vrou:
# Die Verenigde Nasies sê hy voer ‘n stryd teen tyd om humanitêre bystand uit te brei en voor te berei vir die reuse-taak om Gaza te herbou terwyl die brose skietstilstand voortduur. Hamas het vroeër die week aangedui daar kan ‘n onbepaalde vertraging wees met die vrylating van die volgende drie gyselaars weens skendings deur Israel, maar het gister bevestig hulle sal môre vrygelaat word. Die VN se Kantoor vir Projekdienste sê die omvang van die vernietiging in Gaza hou logistieke en finansiële uitdagings in wat waarskynlik jare sal voortduur.
# Motorsport: Die McLaren-renjaer Lando Norris sê hy is vasbeslote om die bestuurderskampioenskap vanjaar weer uit te daag met die nuwe Formule Een-seisoen wat volgende maand in Australië begin. Die Brit het McLaren verlede jaar gehelp om die eerste vervaardigerskroon sedert 1998 te buit. Hy het egter klaargemaak met 63 punte minder as Max Verstappen van Red Bull, wat sy vierde agtereenvolgende bestuurderstitel ingepalm het. Norris sê hy moet slim te werk gaan in sy stryd teen Verstappen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-889-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-932-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-7-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….