Nuus 11:00
BULLETIN 13 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA eis aanspreeklikheid van Eskom
# Europese lande wil deel wees van die vredesonderhandelinge in Oekraïne
# En krieket: Die Proteas wil verbeter voor die Kampioenetrofee
# ActionSA eis aanspreeklikheid vir korrupsie by Eskom van die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, en Eskom se voorsitter, Mteto Nyati. Die Ouditeur-Generaal het reuse-verliese uitgelig weens ongerymde besteding en bedrog, wat bydra het tot die skerp styging in kragtariewe van 135-persent binne agt jaar. Dit het huishoudings en sake-ondernemings swaar getref. Alan Beesley van ActionSA vra dringende hervormings, die verwydering van onbevoegde uitvoerende hoofde, en regstappe teen korruptes:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê om die staat doeltreffend van korrupsie te suiwer, moet die instellings wat dit beveg, versterk word. Die Spesiale Ondersoekeenheid het die staatskas in die 2023/’24-boekjaar sowat agt-miljard gespaar. Die eenheid het deur die Spesiale Tribunaal en die Hooggeregshof ook kontrakte van meer as twee-miljard-rand tersyde gestel. Kubayi sê die regering moet ontslae raak van alle korrupte praktyke sodat ‘n etiese en bevoegde ontwikkelingstaat geskep kan word.
# AfriForum het in die Hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen om verlof tot appèl teen ‘n hofbeslissing oor die instelling van ‘n nuwe kragtariefstruktuur in die Mogale City-munisipaliteit in Gauteng. Die organisasie sê die munisipaliteit het vroeër ‘n vaste tariefstruktuur goedgekeur, maar verlede jaar besluit om dit met nóg 12,7-persent te verhoog. Diedré Steffens van AfriForum sê dit het meegebring dat sekere tariewe tydens sekere gebruiksvlakke meer as 30-persent hoër kan wees:
# Sewe Europese lande, wat Brittanje, Frankryk en Duitsland insluit, dring aan om deel te wees van enige toekomstige vredesonderhandelings om Rusland se oorlog teen Oekraïne te beëindig. Dit volg nadat president Donald Trump van Amerika met die Russiese president, Vladimir Putin, gepraat en die twee ooreengekom het om onmiddellik met vredesamesprekings te begin. Die ministers van Buitelandse Sake sê in ʼn gesamentlike verklaring Oekraïne moet sterk veiligheidswaarborge kry. Hulle voeg by regverdige en blywende vrede is in die land nodig vir behoorlike trans-Atlantiese sekerheid.
# Krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, sê sekere aspekte van hul spel moet verbeter voor die Kampioenetrofee volgende week in Pakistan begin. Pakistan het Suid-Afrika gister in hul Drienasieswedstryd in Karatsji met ses paaltjies verslaan en daarmee hul plek in môre se eindstryd teen Nieu-Seeland bespreek. Die Proteas begin hul aanslag in die kompetisie volgende Vrydag teen Afganistan. Bavuma sê hulle sal ‘n veelsydige vertoning moet lewer in moeilike kolftoestande:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-161-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-917-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….