Nuus 11:00
BULLETIN 12 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit begin met ’n veldtog teen Suid-Afrika se raswette
# Die Departement van Korrektiewe Dienste ontwikkel ’n plan teen ontsnappings
# En die Italiaanse polisie keer byna 150 Mafia-lede aan
# Solidariteit sê hy gaan ‘n omvattende nasionale en internasionale veldtog van stapel stuur teen Suid-Afrika se rasgebaseerde wette, insluitend regstellende optrede en swart ekonomiese bemagtiging. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê hulle aksieplan sluit in druk op die regering om die land se raswette te wysig en skakeling met die G20-lande om Suid-Afrika se rasgebaseerde wette op die agenda te plaas. Hy sê hulle gaan die Internasionale Arbeidsorganisasie ook vra vir die aanstelling van ‘n spesiale verteenwoordiger om na die land te stuur:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste sê hy het al die Openbare Beskermer se aanbevelings nagekom om ‘n strategie te ontwerp wat ontsnappings voorkom. Die departement het die Parlement ingelig oor sy aksieplan om die aanbevelings in die Openbare Beskermer se verslag oor Thabo Bester se ontsnapping uit die Mangaung-gevangenes in die Vrystaat, na te kom. Pheladi Kekana van die departement sê hulle het ook riglyne opgestel om sekerheidsvoorvalle, voorkoming van korrupsie en bedrog, en fluitjieblaser-beleidsprosedures te hanteer:
# Die DA in Gauteng het sy oproep aan die provinsiale Onderwysdepartement herhaal om onmiddellik ʼn plan te maak met oorvol skole reg oor die provinsie. Sergio Isa dos Santos van die party sê hy het tydens ʼn oorsigbesoek aan die Randvaal Primary School in Sedibeng 53 leerders in een klaskamer gevind. Hy sê oorvol skole skep ʼn omgewing wat nie bevorderlik vir leer en onderrig is nie:
# Die Italiaanse polisie het sowat 150 mense aangekeer in ‘n reuse-operasie teen die Siciliaanse Mafia in Palermo, wat steeds in die kloue van die magtige Cosa Nostra-groepe is. Lasbriewe is uitgereik teen altesaam 183 mense van wie 36 reeds in aanhouding is vir misdrywe soos mafia-verwante misdadige verbintenisse, poging tot moord, afpersing, dwelmhandel en onwettige dobbelary. Meer as een-duisend-200 polisielede was betrokke by die vroegoggend-operasie wat die media beskryf as die grootste teen die Cosa Nostra sedert 1984.
# Krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc het om persoonlike redes onttrek aan die Kampioenetrofee wat volgende week in Pakistan begin. Dit beteken Australië sal die toernooi aanpak sonder sy hele snelboulaanval wat die Wêreldbekertoernooi help wen het. Dit volg nadat Pat Cummins, Josh Hazlewood en Mitchell Marsh reeds weens beserings moes onttrek, terwyl Marcus Stoinis uitgetree het. Steve Smith sal die span aanvoer in Cummins se afwesigheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 23-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-870-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-893-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….