Nuus 11:00
BULLETIN 11 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Korrupsie-aanwyser toon daar is geen vordering met Suid-Afrika se pogings teen korrupsie nie
# Die Vereniging van Staatsamptenare is gekant teen die verwydering van mediese fonds-belastingvoordele
# En die Anglikaanse Kerk vergader oor seksuele misbruik
# Transparency International het sy 2024 Korrupsie-aanwyser uitgegee en daarvolgens bly Suid-Afrika se teenkorrupsiepogings staties. Met ’n telling van 41 wat dieselfde is as verlede jaar, bly die land onder die wêreldgemiddeld van 43. Die aanwyser meet 180 lande en gebiede reg oor die wêreld volgens korrupsievlakke in hul openbare sektor. Transparency International sê Suid-Afrika gaan die G20-leiersberaad aanbied, daarom sal hy sy oorsigmeganismes moet versterk om seker te maak korrupsie meng nie in by sulke belangrike internasionale prosesse nie.
# Die Vereniging van Staatsamptenare het kommer uitgespreek oor voorstelle wat die Nasionale Tesourie oorweeg en veral die moontlike verwydering van belastingtoegewings vir mediese fondse. Claude Naiker van die vereniging sê indien hierdie voorstelle ingestel word, kan dit ‘n bykomende finansiële las op werkers plaas wat reeds onder die hoë lewenskoste ly. Hy sê die verwydering van hierdie toegewings sal veroorsaak dat baie werkers nie privaat mediese fondse kan bekostig nie:
# Die GOOD-party vra die Stad Kaapstad om dringend met die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad te vergader om veiligheid by taxistaanplekke te verseker. Sondagaand is 13 taxi’s, vier bussies en ʼn privaat voertuig vernietig in ʼn brand in die taxi-staanplek in Nyanga. GOOD se woordvoerder, Jonathan Cupido, sê hulle verwelkom die bykomende teenwoordigheid van wetstoepassers in Nyanga, maar dis nie genoeg om pendelaars se veiligheid te verseker nie:
# Die verkose beheerliggaam van die Anglikaanse Kerk het begin met ‘n week lange vergadering oor die ongekende krisis wat ontketen is deur ‘n aantal seksuele misbruik-skandale. Die vergadering in Londen volg ‘n maand nadat Justin Welby weens die skandaal bedank het as die aartsbiskop van Kantelberg en wêreldwye hoof van Anglikane. Bewerings van seksuele misbruik teen ‘n priester en ‘n biskop het ook in die afgelope maande na vore gekom en Welby se tussentydse vervanging in omstredenheid gedompel.
# Nieu-Seeland Rugby is besig met regstappe teen die Britse chemikalieë-reus, Ineos, en beskuldig die maatskappy dat hy sy borgskap-ooreenkoms van ses jaar verbreek. Die maatskappy, wat aan die Britse miljardêr Jim Ratcliffe behoort, het volgens berigte drie jaar te vroeg van sy winsgewende borgskap-ooreenkoms weggestap en nie sy eerste betaling vir vanjaar gemaak nie. Nieu-Seeland Rugby sê sy enigste keuse is om regstappe te doen om sy finansiële posisie te beskerm. Hy sê hy soek tans nuwe borge.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-399-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-916-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….