Nuus 11:00
BULLETIN 7 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Openbare Werke verwelkom Ramaphosa se verbintenis tot beleggings in infrastruktuur
# BOSA sê die staatsrede het bestaan uit verhewe beloftes sonder aksieplanne
# En Amnestie Internasionaal sê Trump se uitvoerende bevel teen die Internasionale Strafhof is roekeloos
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, verwelkom president Cyril Ramaphosa se steun vir die werk wat sy departement doen om van Suid-Afrika ‘n bouterrein te maak. Ramaphosa het in sy staatsrede gesê die regering beplan om minstens 100-miljard-rand se privaat sektor-beleggings te lok vir infrastruktuurbefondsing. Macpherson sê die president het ook onderneem om kleiner hawens te laat herleef vir meer ekonomiese bedrywighede:
Build One South Africa sê egter die staatsrede was vol beloftes, maar sonder realistiese planne om dit uit te voer. Party-leier Mmusi Maimane sê die werklikheid is dat die ekonomie verklein, korrupsie gaan ongehinderd en sonder gevolge voort, en noodsaaklike dienste soos onderwys en water gaan steeds agteruit. Hy sê sonder ‘n wesenlike verskuiwing in regering sal Suid-Afrika op dieselfde pad na stilstand bly:
# Mining Affected Communities United in Action veroordeel die uitlatings deur die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, oor die dood van bykans 80 onwettige mynwerkers in Stilfontein, Noordwes. Hulle voer aan sy kommentaar tydens die Mynbou-indaba, waar hy beweer het die mynwerkers het self besluit om ondergronds te gaan, was onverskillig en wou die regering se gebrek aan optrede regverdig. Woordvoerder Sabelo Mnguni beskuldig die staat daarvan dat hy doelbewus hulp weerhou, wat tot hongersnood lei, en vra Mantashe se bedanking:
# Amnestie Internasionaal sê die Amerikaanse president, Donald Trump, se uitvoerende bevel wat ekonomiese sanksies instel teen die Internasionale Strafhof is roekeloos en venynig. Die bevel stel die bevriesing van bates en ‘n reisverbod in teen die hof se personeel wat betrokke was by pogings om Amerikaanse burgers te ondersoek of te vervolg, asook teen sekere bondgenote soos Israel. Amnestie Internasionaal sê instellings soos die Strafhof is nou nodiger as ooit om die beskerming van menseregte te bevorder, toekomstige wreedhede te voorkom en geregtigheid vir slagoffers te verseker.
# Rugby: Matthieu Jalibert vervang die geskorste losskakel Romain Ntamack in Frankryk se span vir môre se Sesnasieswedstryd teen Engeland op Twickenham. Ntamack het ‘n rooikaart gekry in sy eerste wedstryd vir Les Bleus na ‘n afwesigheid van 17 maande weens ‘n besering. Hy is afgestuur vir ‘n gevaarlike duikslag op die Walliese senter Ben Thomas tydens verlede naweek se wedstryd in Parys, en geskors vir drie weke of drie wedstryde. Jalibert keer terug nadat hy in November die nasionale groep om persoonlike redes verlaat het.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-13-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-863-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-57-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….