Nuus 11:00
BULLETIN 6 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake sal nie die G20-beraad in Suid-Afrika bywoon nie uit verset teen die Wet op Grondonteiening
# Die Franse wapenmaatskappy Thales wil kwytgeskeld word in sy saak saam met Zuma
# En motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen hoop om betyds reg te wees vir die begin van die seisoen
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê hy gaan nie later die maand die G20-beraad in Suid-Afrika bywoon nie uit verset teen die land se Grondonteieningswet. Rubio sê in ‘n inskrywing op die sosiale media-platform X Suid-Afrika doen baie slegte dinge en onteien privaat eiendom, terwyl hy die G20 gebruik om eensgesindheid, gelykheid en volhoubaarheid te bevorder. Hy sê sy werk is om Amerika se nasionale belange te bevorder en nie belastingbetalers se geld te mors op teen-Amerikanisme nie.
Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het intussen herhaal daar is geen arbitrêre onteiening van grond of privaat eiendom in Suid-Afrika nie. Lamola se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê die regering is steed gewillig om met Amerika in gesprek te tree:
# Die Franse wapenmaatskappy, Thales, het in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg aansoek gedoen dat die aanklagte oor die wapenooreenkoms teen hom laat vaar en hy kwytgeskeld word. Die maatskappy is die medebeskuldigde in oudpresident Jacob Zuma se korrupsie- en afpersingsaak. Thales se prokureur, Cameron Dunstan-Smith, voer in hofdokumente aan dat die saak al 16 keer uitgestel is, en gevolglik is Thales se grondwetlike reg op ʼn regverdige verhoor onherstelbaar geskend. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê hulle het Thales se aansoek ontvang:
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê hy is vol vertroue dat die nodige sekerheidsontplooiing en -planne gereed is om ʼn vreedsame en veilige staatsrede te verseker. President Cyril Ramaphosa lewer sy toespraak vanaand in Kaapstad. Nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê wetstoepassers sal geen ontwrigting toelaat of verdra nie:
# Motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen, Jorge Martin, kan nie verder deelneem aan voorseisoense toetse in Maleisië nie en sal in Europa geopereer word. Dit volg op ‘n ernstige ongeluk op die eerste dag op die baan in Sepang. Die Spanjaard het sy hand en voet gebreek nadat hy van sy Aprilia-motorfiets geval het. Hy het vroeër die dag ongedeerd weggestap van nog ‘n ongeluk. Martin is nou gewikkel in ‘n stryd om betyds te herstel voor die eerste Grand Prix van die seisoen op 2 Maart in Thailand plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-152-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-860-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….