Nuus 11:00
BULLETIN 4 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA versoek Ramaphosa om nie beloftes in sy staatsrede te maak wat hy nie kan nakom nie
# Die Alliansie van Informele Handelaars sê die Tabakwetsontwerp gaan informele handelaars benadeel
# En Donald Trump staak vir eers die voorgestelde tariewe vir Mexiko en Kanada
# President Cyril Ramaphosa gaan Donderdag sy staatsrede lewer en Build One South Africa sê landsburgers verdien meer as herwinde retoriek. Die party beskuldig die president dat hy in sy staatsredes beloftes maak wat hy nie nakom nie. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê hulle het tien van die skreiendste gebreekte beloftes oor die afgelope paar jaar geïdentifiseer wat Ramaphosa se mislukkings ontbloot. Hy sê dit sluit Eskom se ontbondeling, die vermindering van werkloosheid en digitale migrasie in:
# Die Suid-Afrikaanse Alliansie van Informele Handelaars sê hy stem saam met die gesondheidsgevare van rook, maar is bekommerd oor die ekonomiese uitwerking van die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels. Die parlementêre portefeuljekomitee oor Gesondheid het sy provinsiale openbare verhore oor die wetsontwerp afgehandel. Dit stel strenger maatreëls voor om die rookgewoonte en blootstelling aan tabakrook te bekamp. Die alliansie sê indien die wetsontwerp bekragtig word, kan dit meer as ses-miljoen informele handelaars benadeel wat vir hul lewensbestaan deels op tabakverkope staatmaak.
# Die Gautengse polisie ondersoek moordaanklagte nadat twee busbestuurders gisteraand in twee afsonderlike voorvalle in Soweto doodgeskiet is. ‘n Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê in die eerste voorval het ‘n Rea Vaya-busbestuurder glo by ‘n verkeerslig in Wid Chestnutstraat gestop toe hy deur onbekende verdagtes doodgeskiet is. Nevhuhulwi sê die busmaatskappy het sy dienste tydelik opgeskort tot verdere kennisgewing:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ingestem om sy voorgestelde tariefverhogings van 25-persent vir Kanada en Mexiko met 30-dae te vertraag. Dit sou vandag in werking tree. Dit volg op gesprekke met die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, en die Mexikaanse president, Claudia Sheinbaum. China ondervnd steeds van vandag ‘n bykomende heffing van tien-persent op sy uitvoere na die VSA. Trudeau sê die voorgestelde tariefverhogings sou die lewe minder bekostigbaar maak vir Kanadese en Amerikaners, en ekonomiese groei in albei lande verswak:
# Krieket: ‘n Plek in Sondag se eindstryd van die SA20 is vandag op die spel in die eerste kwalifiseerder tussen die bure MI Cape Town en Paarl Royals in Gqeberha. Die wenner kan agteroor sit en wag om uit te vind wie sy teenstander op die Wanderers gaan wees, terwyl die verloorder nog ‘n kans kry om deur te dring. Daardie span kom in die tweede kwalifiseerder te staan teen die wenner van môre se elimineerder tussen Joburg Super Kings en Sunrisers Eastern Cape in Centurion. Die wenner kry prysgeld van 34-miljoen-rand en die naaswenner 16,25-miljoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-288-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-812-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….