Nuus 11:00
BULLETIN 28 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wysigingswet op Beskermingsmaatreels vir Behuisingsverbruikers word bekragtig
# Die Raad van Gesondheidsfinansiers beveg die Raad vir Mediese Skemas oor goedkoper mediese fondsplanne
# En die Indiese snelbouler Jasprit Bumrah word aangewys as die Internasionale Krieketraad se toetsspeler van 2024
# President Cyril Ramaphosa sê groter beskerming vir behuisingsverbruikers en steun vir nuwe toetreders tot die huisboubedryf is belangrik. Hy het die Wysigingswet op Beskermingsmaatreels vir Behuisingsverbruikers as wet onderteken, wat aandag gee aan die uitdagings wat uitgeken is deur die Departement van Menslike Nedersettings en die Nasionale Registrasieraad van Huisbouers. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die wet gee ook aandag aan die ekonomiese hervorming van die boubedryf deur die instelling van bepalings wat verband hou met die waarborgfonds-surplus:
# Suid-Afrika se Raad van Gesondheidsfinansiers gaan vandag hof toe om die Raad vir Mediese Skemas te verplig om laekoste-voordeelkeuses toe te laat. Hierdie bekostigbare mediese fondsplanne verskaf noodsaaklike gesondheidsorgdienste, maar ondervind vertragings weens die regering se fokus op die Nasionale Gesondheidsversekering. Volgens Business Tech voer die raad aan die Laekoste-voordeel-keuses kan onmiddellik ingestel word en miljoene Suid-Afrikaners bevoordeel. Die raad hou egter vol die vertragings stem ooreen met langtermyn-NGV-doelwitte.
# Die polisie in Mpumalanga het sigbaarheid verhoog nadat 51 Putco-busse gisteraand in die Nkangala-distrik aan die brand gesteek is. Ongeveer 15 gewapende aanvallers het die busdepot by Moloto volgens berigte bestorm en die werknemers aangehou. ‘n Sekerheidswag is gewond. Polisiewoordvoerder Donald Mdhluli sê hulle ondersoek verskeie aanklagte, waaronder poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê China se DeepSeek-maatskappy is ‘n wekroep vir Amerika se tegnologie-bedryf. Aandele wat met kunsmatige intelligensie verband hou, het gister ʼn knou gekry. Die skyfie-vervaardiger Nvidia se aandele het met 17-persent geval nadat DeepSeek se nuwe toepassing die gratis toepassing geword het wat die meeste in Amerika afgelaai is. Dit het al die kenmerke van mededingers soos OpenAI en ChatGPT, maar is teen ʼn fraksie van die koste ontwikkel. Trump sê Amerikaanse nywerhede moet meeding met die doel om te wen:
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het die Indiese snelbouler Jasprit Bumrah aangewys as die mans-toetsspeler vir 2024. Die 31-jarige het gevrees sy loopbaan is verby na ‘n langdurige rugbesering, maar het laat in 2023 na die langste formaat teruggekeer en was verlede jaar die voorste paaltjienemer. Hy het 71 slagoffers geëis teen ‘n gemiddeld van 14.92. Bumrah sê toetskrieket was nog altyd sy gunstelingformaat. Die veelsydige Azmatullah Omarzai van Afganistan is aangewys as die IKR se eendag-speler vir 2024.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-964-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-740-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-62-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….