Nuus 11:00
BULLETIN 27 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Janusz Waluś sê hy het nie berou omdat hy Chris Hani vermoor het nie
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee wil armoede en stygende lewenskoste bekamp
# En, tennis: Die Amerikaner Tommy Paul bereik die eerste keer die toptien
# Die veroordeelde moordenaar, Janusz Waluś, sê hy het geen berou oor die sluipmoord op die SAKP se sekretaris-generaal, Chris Hani, nie en sou dit weer doen om die oorgang na ‘n demokratiese Suid-Afrika te keer. Hani is in 1993 buite sy huis in Boksburg, Gauteng, doodgeskiet. Waluś is verlede jaar na Pole gedeporteer nadat hy byna 30 jaar tronkstraf uitgedien het. Hy het in ʼn eksklusiewe onderhoud met Annika Larsen van eNCA gesê dit was ʼn bespotting van geregtigheid dat die Waarheids- en Versoeningskommissie hom amnestie ontsê het:
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het hom verbind om ʼn inklusiewe ekonomie te skep om armoede te verlig, en plaaslike regering te verbeter. Die NUK het sy jaarlikse lekgotla in Boksburg gehou. Die ondervoorsitter van die subkomitee oor ekonomiese hervorming, Zuko Godlimpi, sê hulle is bekommerd oor die 30-miljoen Suid-Afrikaners wat onder die broodlyn leef. Hy sê die voorstelle sluit regulatoriese maatreëls in soos ʼn beperking op die brandstofprys, BTW-vrye elektrisiteitstariewe en meer BTW-vrye kossoorte om noodsaaklike, voedsame produkte in te sluit.
# Die EFF in Gauteng sê dis onaanvaarbaar dat e-taxibestuurders steeds onder onredelike vertragings deurloop en dat beslag gelê word op hul voertuie. Dit gebeur al doen hulle aansoek vir bedryfspermitte. Die party ondersteun bestuurders wat eis dat hulle voertuie nie geskut word nie en bedryfspermitte gouer verwerk word. Dumisani Baleni van die EFF sê e-taxibestuurders gaan gebuk onder burokratiese rompslomp en strafmaatreëls wat deur die Tshwane-metropolisiedepartement ingestel word:
# Die African Transformation Movement vra ‘n hersiening van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se operasionele vermoë. Dit volg nadat nege Suid-Afrikaanse soldate gesneuwel het en 18 gewond is in botsings met M23-rebelle naby Goma in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die woordvoerder van ATM, Zama Ntshona, meen onvoldoende bronne en toerusting waarvan die betroubaarheid agteruitgaan kan as uitdagings beskou word. Hy vra regeringsaanspreeklikheid om nog tragedies te voorkom:
# Tennis: Die Amerikaner Tommy Paul het die grootste vordering gemaak op die jongste ATP-ranglys en die eerste keer in sy loopbaan die toptien gehaal. Die 27-jarige, wat die Australiese Ope se kwarteindronde gehaal het, het twee plekke opgeskuif tot negende. Die Italianer Jannik Sinner, wat gister sy tweede agtereenvolgende Australiese Ope-titel gewen het, is steeds nommer een. Alexander Zverev van Duitsland, wat in die eindstryd in Melbourne teen Sinner verloor het, is tweede en Carlos Alcaraz van Spanje derde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-352-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-751-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….