Nuus 11:00
BULLETIN 23 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party vra Trump om die Phala Phala-skandaal te ondersoek
# OUTA beskuldig die finansiële hulpskema vir studente dat hy studenteverblyf monopoliseer
# En Frankryk was verlede jaar die gewildste vakansiebestemming
# Die MK-party wil hê die Amerikaanse president, Donald Trump, moet vasstel hoe dit gebeur het dat dollars in president Cyril Ramaphosa se meubels versteek is op sy plaas in Limpopo, Phala Phala. ‘n Komitee het in 2022 bevind Ramaphosa het dalk ‘n oortreding begaan. ANC-parlementslede wat destyds ‘n meerderheid in die Nasionale Vergadering gehad het, het egter verhoed dat ‘n komitee geskep word om hom in ‘n staat van beskuldiging te plaas. MK is optimisties die Trump-administrasie sal ‘n nuwe era van regverdige bestuur wêreldwyd inlui.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik waarsku oor ‘n dreigende krisis met studenteverblyf omdat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente verskaffers 44-miljoen-rand skuld. Die Vereniging vir Privaat Studentebehuising, wat 80-duisend studente huisves, dreig om terugkerende studente weg te wys indien betalings nie binne twee weke gedoen word nie. OUTA se woordvoerder, Rudie Heyneke, skryf dit toe aan wanbestuur van die skema, insluitend ‘n ontoereikende portaal en laat betalings, wat studente en verhuurders weerloos laat:
# Die ANC se alliansie in KwaZulu-Natal met die SAKP, Cosatu en die burgerlike organisasie SANCO, het onderneem om te fokus op politieke ontwikkeling. Hulle sal poog om leiers met integriteit en sterk begrip op te lei om die provinsie te help ontwikkel en die nasionale demokratiese revolusie voort te sit. Die SAKP se provinsiale sekretaris, Themba Mthembu, sê die alliansie is daartoe verbind om kaders met sterk ontledingsvaardighede en ‘n diepgaande begrip van die politieke landskap te koester om die provinsie se mense te dien:
# Sokker: Die Premiersokkerliga het alle wedstryde van Royal AM onbepaald opgeskort. Die Inkomstediens het die KwaZulu-Natalse klub wat aan die omstrede sakevrou Shauwn Mkhize behoort, onder kuratorskap geplaas weens meer as 40-miljoen-rand se belastingskuld. Royal AM het nog nie ‘n liga-wedstryd gespeel sedert sy nederlaag van drie-een teen TS Galaxy op 29 Desember nie, en het versuim om sy spelers en personeel se salarisse te betaal. Die PSL sê hy ontmoet Royal AM Vrydag om die klub ‘n kans te gee om sy saak te stel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-828-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-752-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-88-sent per vat.
# En ten slotte: Sowat 1,4-miljard mense het in 2024 internasionaal gereis, wat 99-persent is van dié in 2019 – die laaste volle jaar voor Covid-19 uitgebreek het. Dit is volgens die Verenigde Nasies Wêreld-toerisme-organisasie se 2024-oorsig van die jaar. Europa, met 747-miljoen toeriste, is die vasteland wat die meeste besoek is. Frankryk het die meeste besoekers ontvang met 100-miljoen mense wat onder meer deur die Olimpiese Spele en die heropening van die ikoniese Notre Dame-katedraal gelok is. Die organisasie sê 74-miljoen mense het na Afrika gereis wat 12-persent meer is as in 2023.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….