Nuus 11:00
BULLETIN 22 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die voorgestelde transformasiefonds is ongrondwetlik
# Die Parlement is bekommerd oor ‘n gebrek aan gevolgbestuur in die Polisiediens
# En tennis: Iga Swiatek en Madison Keys dring deur na die halfeindronde van die Australiese Ope
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die voorgestelde transformasiefonds van 100-miljard-rand is ongrondwetlik. Die fonds, wat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau aangekondig het, is gemik op die befondsing van ondernemings in swart besit en maatskappye sal vereis word om deur middel van Swart Ekonomiese Bemagtigingskodes by te dra, of uitgesluit word van staatstenders. Die instituut se woordvoerder, Michael Morris, sê die fonds stel rasgebaseerde voorkeure voor billike ekonomiese beleide, wat slegs ‘n polities-verbonde elite bevoordeel en ongelykheid vererger:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor die Polisie sê die vertraging in die instelling van gevolgbestuur in die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondergrawe vertroue en kan nie ongebreideld voortduur nie. Minister Senzo Mchunu het onthul dat 40 polisielede tans geskors is vir onder meer bewerings van ernstige wangedrag, korrupsie, diefstal en moord. Die komitee se voorsitter, Ian Cameron, sê die versterking van bestuur en operasionele doeltreffendheid in die Polisiediens is van uiterste belang.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, verwelkom die bevindings van ‘n verslag van die Universiteit Stellenbosch wat die uitwerking van die departement se #BackOnTrack-leerprogram geëvalueer het. Die program sluit ekstra klasse oor naweke en vakansies vir leerders in, asook bykomende opleiding vir onderwysers. Die verslag toon die program werk en herstel onderrigverlies in die provinsie. Maynier sê die verslag beklemtoon ook probleme soos deelname en bywoning wat moet verbeter:
# Die Verenigde Nasies sê Afrika bly die middelpunt van terrorisme wêreldwyd en meer optrede is nodig om internasionale voornemens in te stel om die plaag te stuit. Meer as sesduisend terrorisme-verwante sterftes is drie agtereenvolgende jare in die streek aangemeld, wat meer as die helfte van die wêreldsyfer uitmaak. Die VN se adjunk-sekretaris-generaal, Amina Mohammed, sê die Afrika-unie se teenterrorisme-sentrum het verlede jaar meer as drieduisend-400 terrorisme-aanvalle op die vasteland aangeteken:
# Tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek van Pole, het slegs 14 potte afgestaan onderweg na haar tweede Australiese Ope-halfeindstryd. Die wêreld-nommer-twee het die Amerikaner Emma Navarro in die kwarteindstryd verslaan en speel môre teen nog ‘n Amerikaner, Madison Keys, vir ‘n plek in die eindstryd. Keys het haar derde halfeindstryd in Melbourne gehaal met ‘n oorwinning in drie stelle oor Elina Svitolina van Oekraïne. In die ander halfeindstryd pak die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, die Spanjaard Paula Badosa.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-498-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-750-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….