Nuus 11:00
BULLETIN 21 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom konsentreer daarop om in Maart een jaar sonder beurtkrag te lewer
# Die DA stel ‘n intelligensie-spilpunt voor om onwettige mynsindikate te bekamp
# En Trump onttrek Amerika aan die Wêreldgesondheidsorganisasie
# Suid-Afrika het om middernag 300 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag beleef en Eskom skryf dit toe aan die Opwekkingsherstelplan. Die kragverskaffer sê hierdie mylpaal is gekenmerk deur ‘n aansienlike afname in onbeplande kragonderbrekings, ʼn verbetering van sowat sewe-persent in die energie-beskikbaarheidsyfer en dieselbesparing van ongeveer 16,42-miljard-rand. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle konsentreer daarop om teen middernag op 26 Maart ʼn jaar sonder beurtkrag te bereik:
# Die DA versoek die vestiging van ‘n gesentraliseerde intelligensiesentrum om op tree teen onwettige mynsindikate en hul afpersingsbedrywighede. Die party glo na die ontsnapping van die beweerde onwettige mynhoof, James Tshoaeli, in Stilfontein, Noordwes, dat doeltreffende misdaadintelligensie deurslaggewend is om hierdie misdaadnetwerke te vernietig. DA-woordvoerder, Ian Cameron, dring aan op samewerking binne wetstoepassing om onwettige mynbou te beveg en veiligheid te herstel vir gemeenskappe wat deur hierdie sindikate misbruik word:
# Slegs 13 van Tshwane se raadslede het gestem teen die voorgestelde salarisverhoging van vyf persent, en 166 daarvoor. Dit is die eerste salarisverhoging vir raadslede sedert die 2018/’19-boekjaar. Die Gautengse LUR vir Samewerkende Regering moet nog die verhoging goedkeur, wat na Julie 2024 terugdateer. Tshwane se finansies is steeds onder erge druk terwyl Eskom die raad as sy grootste debiteur aantoon met skuld van meer as 6,7-miljard-rand einde November. Raadslid Lex Middelberg sê hy het die verhoging teengestaan omdat die metro se debiteursboek die hoogste ooit is.
# President Donald Trump het ʼn uitvoerende bevel onderteken om Amerika aan die Wêreldgesondheidsorganisasie te onttrek. Hy voer aan die organisasie het die Covid-19-pandemie swak hanteer en nie dringend noodsaaklike hervormings ingestel nie. Amerika dra sowat 18-persent van die WGO se totale befondsing by, wat verreweg die meeste is. Die land sal die organisasie binne ʼn jaar ná die amptelike kennisgewing verlaat. Trump sê die WGO gaan voort om onbillike betalings van Amerika te eis wat buite verhouding is teenoor dié wat ander lande, insluitend China, betaal.
# Tennis: Die gewese wêreld-nommer-twee, Paula Badosa, is deur na die eerste Grand Slam-halfeindronde van haar loopbaan nadat sy die wêreld-nommer-drie, Coco Gauff, in die Australiese Ope verslaan het. Die Spanjaard het die Amerikaner 7-5, 6-4 geklop in haar eerste oorwinning oor ‘n toptien-speler in ‘n Grand Slam-toernooi. In die mansafdeling het die Duitser Alexander Zverev nog ‘n Amerikaner, Tommy Paul, in vier stelle geklop om sy derde halfeindronde in Melbourne te haal. Badosa is in die wolke oor haar vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-126-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-723-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….