Nuus 11:00
BULLETIN 20 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika se boodskap op die Wêreld-ekonomiese Forum sal op volhoubare en inklusiewe groei fokus
# Donald Trump beloof om byna ‘n honderd uitvoerende bevele te onderteken enkele ure nadat hy vandag ingehuldig word
# En krieket: Gerald Coetzee kan steeds vir die Proteas in die Kampioenetrofee-toernooi speel
# President Cyril Ramaphosa sê een van die boodskappe wat die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Wêreldekonomiese Forum in Switserland sal neem, is die land se voortdurende fokus op vennootskappe in sy strewe na groei en volhoubare ontwikkeling. Die vergadering vind plaas te midde van Suid-Afrika se oorname van die presidentskap van die Groep van 20. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die G20 lê klem op die bevordering en samewerking tussen lande oor die wêreld se knellendste kwessies.
# Die Vryheidsfront Plus sê dis onaanvaarbaar en nie in openbare belang om die Suid-Afrikaanse Polisiediens se inspektoraat-afdeling te ontbind nie. Die polisiediens sê sy nasionale kommissaris, Fannie Masemola, is wetlik by magte om die inspektoraat te organiseer en te herorganiseer. Heloïse Denner van die VF Plus sê spesifieke redes vir die ontbinding moet so gou moontlik gegee word:
# Die Bench-Marks-stigting sê die Stilfontein-tragedie in Noordwes is vererger omdat ambagsgerigte mynbou nie geformaliseer word nie. Sedert November is meer as 80 liggame uit ‘n skag van die Buffelsfontein-goudmyn gehaal en meer as ʼn duisend onwettige mynwerkers het na die oppervlak gekom. Die stigting sê indien ʼn regsraamwerk vir kleinskaalse myners geskep word, sal dit veiligheidstandaarde verbeter en ekonomiese geleenthede skep vir gemeenskappe wat deur grootskaalse werkloosheid geraak word.
# Amerika se gekose president, Donald Trump, sê hy wil met geskiedkundige spoed en krag optree om byna 100 uitvoerende bevele in te stel op sy eerste dag as president. Hy word vandag as Amerika se 47ste president ingehuldig. Die bevele sluit in die herinstelling van ʼn reeks immigrasiebeleide uit sy eerste termyn. Trump het ʼn skare in Washington toegespreek en beloof om inligting oor die sluipmoorde op oudpresident John F Kennedy en die politieke aktivis Martin Luther King Junior openbaar te maak:
# Krieket Suid-Afrika sê Gerald Coetzee kan steeds vir die komende Kampioenetrofee-toernooi gekies word en ʼn besluit hieroor sal in die eerste week van Februarie geneem word. Die snelbouler het aan die res van die huidige SA20-toernooi onttrek weens ʼn agterkniesening-besering. Hy sou Anrich Nortjé vervang wat weens ʼn besering nie aan die 50-boulbeurttoernooi in Pakistan kan deelneem nie. KSA sê die Proteas se mediese span sal Coetzee se herstel fyn dophou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-34-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-708-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….