Nuus 11:00
BULLETIN 10 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Christelike Forum doen regstappe teen die Padongelukkefonds
# Drie verdagtes word gearresteer vir mensehandel
# En die dodetal in die Los Angeles-brand styg tot tien
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum doen regstappe teen die Padongelukkefonds oor onbetaalde fakture. Volgens die forum sukkel ‘n gestremde sakevrou, met meer as 15 mense in haar diens, reeds langer as ‘n jaar met vertraagde betalings, wat salarisse, materiaal en projekte beïnvloed. Die forum se president, Marothi Mashashane wil geregtigheid hê vir die sakevrou en ander wat geraak word deur die Fonds se wanbetaling:
# Die Valke het drie verdagtes in hegtenis geneem wat glo met ‘n mensehandelsindikaat verbind word. Dit volg na die polisie 15 ongedokumenteerde Ethiopiese burgers gered het wat teen hulle wil in ‘n huis in Lombardy-Oos in Johannesburg aangehou is. Elf is in die hospitaal opgeneem terwyl 30, wat glo naak was, Donderdagaand ontsnap het. Die Valke se woordvoerder, Philani Nkwalase, sê ‘n voorlopige ondersoek het bevind die slagoffers het ‘n venster en diefwering oopgebreek en ontvlug:
# Die dodetal in die vyf brande in Los Angeles het nou tot tien gestyg terwyl weervoorspellers waarsku dat sterk winde die vlamme verder kan aandryf. Tienduisende strukture is in die grootste brand ooit in die Palisades-kusgebied vernietig en dit is slegs ses-persent onder beheer. Die Los Angeles-polisiedepartement sê intussen ‘n man is aangekeer vir vermoedelik brandstigting na hy na bewering probeer het om ‘n brand in die Woodlands Hills-gebied te stig.
# Rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Philip Snyman, sê hulle is bewus van die reusetaak wat voorlê in die Wêreld-sewesreeks se Perth-toernooi. Die Blitsbokke is in dieselfde groep ingedeel as die verdedigende kampioene van Argentinië, die gashere Australië en Amerika vir die toernooi wat van die 24ste tot die 26ste duur. Die span is verlede week terug in Stellenbosch. Snyman sê hy gaan steeds nuwe spelers byvoeg ter voorbereiding vir die volgende Olimpiese Spele:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-214-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-675-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-15-sent per vat.
# En ten slotte: Die foto van die Brasiliaanse branderplankryer, Gabriel Medina, wat Jerome Brouillet by die 2024 Olimpiese Spele in Parys geneem het, het die topprys by die Wêreld se sportfotografie-toekennings gewen. Die foto wys Medina wat deur die lug sweef met sy branderplank agter hom en sy vinger wat na die hemel wys. Meer as tweeduisend-200 sportfotograwe uit 96 lande het meer as 13-duisend foto’s vir die kompetisie ingeskryf. Brouillet sê hy kon die besondere foto neem danksy die ideale weerstoestande, goeie tydsberekening en ‘n bietjie geluk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….