Nuus 11:00
BULLETIN 8 Januarie 11:00
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma eis dat sy ANC-lidmaatskap herstel word
# Minister Motsoaledi waarsku dat meer pandemies in die toekoms waarskynlik is
# En Donald Trump kondig sy planne aan vir Panama en Groenland
# Die voormalige president Jacob Zuma se prokureurs het ‘n eisbrief geskryf aan die ANC, wat die herinstelling van sy lidmaatskap teen 31 Januarie vra. In November verlede jaar het die party se nasionale dissiplinêre appèlkomitee die besluit van die nasionale dissiplinêre komitee bevestig om Zuma uit te skop. Hy is geskors omdat hy die party se reputasie geskend het deur ‘n mededingende party, MK, te stig en te lei. Die Jacob Zuma-stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sê hulle het prosedurele en wesenlike bekommernisse oor die ANC se prosesse:
# Die minister van Gesondheid Aaron Motsoaledi waarsku dat meer pandemies in die toekoms waarskynlik is, soos wat klimaatsverandering en die indringing van die habitat van ander spesies deur mense voortduur. Die land monitor die uitbreking van die menslike meta-longvirus in China, ‘n asemhalingsiekte wat simptome het wat soortgelyk is aan Covid-19. Motsoaledi sê besprekings duur voort met die hulp van die land se voormalige direkteur-generaal van Gesondheid Precious Matsoso. Sy is tans die mede-voorsitter van die Wêreldgesondheidsvergadering se interregeringsonderhandelingsliggaam wat sy basis in Switzerland het.
# ActionSA in Gauteng sê hy is diep bekommerd oor die huidige finansiële situasie in die provinsie. Die LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling Lebogang Maile het aansprake verwerp dat die provinsie in ‘n finansiële krisis is. In November was die totale besteding 68-persent van die aangepaste begroting van 169,213-miljard-rand, wat beteken 53,9-miljard-rand is beskikbaar vir uitgawes tot die einde van Maart vanjaar. Zwelithini Mtshali van ActionSA sê Gauteng se finansiële posisie kan vinnig agteruitgaan as die provinsiale regering nie versigtig is nie:
# Die verkose Amerikaanse president Donald Trump sê hy kan nie die gebruik van militêre of ekonomiese mag uitskakel om beheer terug te neem oor die Panamakanaal en vir die beslaglegging op Groenland nie. Hy het die media gister ingelig oor sy uitbreidingsagenda, twee weke voor hy ingehuldig word. Denemarke en Panama het die afstaan van grond van die hand gewys. Trump sê Amerikaanse beheer oor Groenland en die Panamakanaal is uiters belangrik vir die VSA se nasionale sekerheid:
# Rugby: Die Haaie se loskopstut Ox Nché sê hulle is deeglik bewus van die fisiese uitdaging wat die Franse span Toulouse Saterdag sal inhou in hulle Kampioenebeker-groepswedstryd in Durban. Die sesmalige kampioene Toulouse het die verdediging van hulle titel indrukwekkend afgeskop deur met Ulster en Exeter af te reken. Intussen het die Haaie Exeter met 39-21 gelooi maar met 56-17 teen die Leicester Tigers verloor. Nché sê hulle verwag ‘n taai stryd, met die skrum waar dinge beslis sal word weens ‘n nuwe reëlverandering wat skrumskakels meer beskerming gee.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-531-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-336-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 77-dollar-15-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….