Nuus 11:00
BULLETIN 4 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom bereik 283 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag
# ‘n Onderwysaktivis vra ‘n verhoging van die Sibusiso Bengu-ontwikkelingstoelae
# En Veerpyltjies: Die tiener Luke Littler word die jongste wêreld veerpyltjie-kampioen
# Eskom sê daar was sedert 26 Maart verlede jaar 283 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag, wat dui op strukturele verbeterings in die opwekkingsprestasie. Die waarnemende woordvoerder, Aubrey Sambo, sê hierdie prestasie, danksy belegging in die opwekkingsherstelplan en verbeterde instandhoudingsprotokolle, het ook gelei tot ‘n dieselbesparing van 16,52-miljard-rand:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta moedig die regering aan om befondsing te verhoog vir die Sibusiso Bengu-ontwikkelingstoelae. Die toelae steun histories-benadeelde instellings, wat sukkel met infrastruktuur-, personeel- en hulpbronuitdagings. Hy beklemtoon meer fondse is lewensbelangrik vir die instellings om hulle rol te vervul in die aanspreek van ongelykhede, die voorsiening van vaardige gegradueerdes en die opheffing van gemeenskappe:
# Die brandweerdienste in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het bevestig die brande in Franschhoekpas en De Doorns is laat gisteraand onder beheer gebring. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto sê geen beserings of skade aan eiendom is aangemeld nie. Sy sê van die brandweervoertuie kon terugkeer na die basis en die Franschhoekpas is tans weer oopgestel vir verkeer:
# Digte mis het honderde vlugte op die Delhi-lughawe ontwrig terwyl Indië gebuk gaan onder ‘n sterk koue front. Die land se Meteorologiese Kantoor sê ander lughawens het ook toestande van geen sigbaarheid ondervind. In die reisvertragings en chaos moes tientalle treine ook herskeduleer word, of was laat. Die mistige toestande sal waarskynlik oor die volgende paar dae voortduur omdat digte mis dié tyd van die jaar algemeen is in Delhi en ander dele van noord-Indië.
# En ten slotte veerpyltjies: Die tienersensasie Luke Littler van Warrington in Cheshire het die Wêreldveerpyltjiekampioenskap gewen nadat hy Michael van Gerwen in die eindstryd met 7-3 geklop het by Alexandra Palace. Die 17-jarige was die gunsteling voor die toernooi, nadat hy hierdie seisoen tien trofeë ingepalm het. Hy is nou die wêreld se jongste veerpyltjiekampioen ooit en wen prysgeld van meer as 11,6-miljoen-rand. Littler het tydens verlede jaar se kampioenskapeindstryd die publiek se verbeelding aangegryp. Hy het op 18 maande met veerpyltjies begin speel en sy deelname aan die sport het veerpyltjies se gewildheid verhoog.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….