Nuus 11:00
BULLETIN 29 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse styg op Nuwejaarsdag
# Die Pan-Afrika-Parlement sê die opstande in Mosambiek hou ‘n aansienlike risiko in vir buurlande
# En gholf: Die wêreld nommer een onttrek aan The Sentry met ‘n handbesering
# Brandstofpryse gaan op Nuwejaarsdag styg. Die Departement van Minerale Bronne en Energie het ‘n styging van 19-sent per liter aangekondig vir 93-oktaan petrol, en 12-sent vir 95-oktaan. Diesel styg met tussen 7,5- en 10,5-sent per liter en vloeibare gas word 13-sent per kilogram duurder. Lampolie se prys daal met 13-sent per liter. Die departement sê die stygings is te wyte aan hoër internasionale petroleumpryse, en die swakker rand.
# Die Save South Africa-burgerlike beweging sê die land is besig om die stryd teen geslagsgeweld te verloor, eenvoudig omdat die regering nie ‘n duidelike strategie het om die kwessie te hanteer nie. Woordvoerder Tebogo Mashilompane sê die plaag moet eerstens verstaan word as geslagsgeweld in die ware sin van die woord. Hy sê daar is ‘n ernstige probleem in Suid-Afrika omdat die skuldiges meestal mans is:
# Die voorsitter van die Pan-Afrika-Parlement se suidelike koukus, Duduzile Zuma-Sambudla, sê die onluste in Mosambiek hou aansienlike gevare in vir sy buurlande en die breër Suider-Afrikastreek. Woordvoerder Moshe Semenya sê politieke onbestendigheid ontwrig reis, handel en ekonomiese bedrywighede, ontwortel gemeenskappe en bedreig die vordering met streeks-integrasie. Hy sê die streek kan nie die uitdagings ignoreer wat veroorsaak word deur die politieke oproerigheid nie:
# Gholf: Wêreld nommer een Scottie Scheffler sal volgende maand se The Sentry-toernooi in Kapalua, Hawaii, misloop na ‘n fratsbesering. Hy het sy regterhand gesny met ‘n gebreekte glas terwyl hy op Kersdag aandete voorberei het, en moes ‘n operasie ondergaan om glasskerwe te verwyder. Scheffler sal na verwagting vir twee tot drie weke nie kan speel nie. Die spelers vir die toernooi sluit in vier FedEx-beker-kampioene, 31 PGA-toer-toernooiwenners en 29 spelers in die top 50 van vanjaar se FedEx-beker-bepalings.
# En ten slotte, kanker is onthul as die oorsaak van die dood van die 73-jarige Britse aktrise Olivia Hussey, wat oornag beroemd geraak het in die 1968-weergawe van die klassieke Shakespeare-werk “Romeo and Juliet”. Sy en Leonard Whiting het die hoofrolle gespeel in Franco Zeffirelli se bekroonde fliek oor die tragiese liefdesverhaal van twee Italiaanse tieners uit strydende families. Sy is met ‘n Golden Globe vereer. Hussey en Whiting het Paramount Pictures dekades later onsuksesvol gedagvaar vir seksuele uitbuiting omdat hulle onderskeidelik net 15 en 16 was toe hulle in ‘n naaktoneel verskyn het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….