Nuus 11:00
BULLETIN 18 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa sê hoë werkloosheid bevorder ongelykheid
# Trump sê Zelensky kan die oorlog met Rusland beëindig as hy wil
# En tennis: Swiatek pak Paolini in die eindstryd in Cincinnati
# Business Leadership South Africa sê die land se werkloosheidsyfer van 32,9-persent weerspieël ‘n ekonomie wat versmoor onder strukturele ondoeltreffendheid, wat wel herstel kan word met dringende hervormings. Die organisasie het verlede week sy Reform Tracker bekendgestel wat die regering se instelling van belangrike ekonomiese, bestuurs- en strafreg-hervorming monitor. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso sê in haar weeklikse nuusbrief die werkloosheidskrisis vereis dringende optrede om bestendigheid en vooruitgang te bewaar. Sy sê die hoë werkloosheidskoers veroorsaak ongelykheid, ondermyn maatskaplike samehang en vernietig vertroue in demokratiese instellings.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge vra die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke om rasgebaseerde beleid te verwerp, anders sal dit lei tot die voortsetting van onnodige lyding en armoede. Die instituut het aan die raad geskryf en sê baie mense slaan ag op die raad se morele leierskap. Die instituut se woordvoerder, Michael Morris, sê die noodsaaklikheid van nie-rassige hervorming wat ten gunste van groei is, kan nie oorbeklemtoon word nie:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy is bewus van kommer oor water, elektrisiteit en sanitasie by Theresa Park Primary en Secondary School. Die departement het by die Stad Tshwane aansoek gedoen vir dienste, maar dis hangende tot hersoneringsvereistes afgehandel is. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê terwyl die proses voortgaan, word tussentydse reëlings getref – insluitend boorgate vir water, kragopwekkers en sonpanele vir elektrisiteit, riooltenke, mobiele toilette en drinkwater-fonteine:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodymyr Zelensky, kan die oorlog met Rusland feitlik onmiddellik beëindig as hy wil. Zelensky en Trump vergader vandag in die Withuis, waar ander belangrike Europese leiers dit ook sal bywoon. Trump het op sy Truth Social-platform gesê ʼn onderhandelde vredesooreenkoms met Rusland sal nie insluit dat Oekraïne by NAVO aansluit of die Krim-skiereiland terugkry wat Moskou in 2014 onwettig geannekseer het nie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Iga Swiatek van Pole, kom teen die Italianer, Jasmine Paolini, te staan in die Cincinnati Ope se eindstryd. Swiatek, die heersende Wimbledon-kampioen, het Elena Rybakina van Kazakstan maklik geklop terwyl Paolini met die Rus, Veronika Kudermetova, afgereken het. Swiatek het al vyf haar vorige wedstryde teen Paolini gewen, insluitend verlede jaar se Franse Ope. In die mansafdeling kom die wêreld se twee beste spelers teen mekaar te staan: die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, teen die Spanjaard Carlos Alcaraz.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-535-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-350-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….