Nuus 11:00
BULLETIN 26 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# KwaZulu-Natalse Gesondheids-LUR vra optrede teen statutêre verkragting te midde van tiener-Kersgeboortes
# Pous Franciskus vra gesprekke om oorlog in Oekraïne te beëindig
# En, krieket: Die Pakistanse snelbouler Khurram Shahzad keer terug na die toetsgroep vir die reeks teen Suid-Afrika
# Die LUR vir Gesondheid in KwaZulu-Natal, Nomagugu Simelane, vra ouers om statutêre verkragtingsake in te dien teen mans wat tienermeisies swanger maak. Die provinsie het gister 47 Kersbabas verwelkom. Onder die ma’s is drie 15-jariges en ‘n 13-jarige, wat kommer oor die gemeenskap laat ontstaan. Sy beklemtoon die wetlike plig om sulke gevalle aan te meld en vra die polisie om op te tree om minderjariges te beskerm:
Intussen vier die LUR vir Gesondheid en Welstand in Gauteng, Nomantu Nkomo-Ralehoko, die geboorte van 184 babas in staatshospitale op Kersdag. Sy het die Tembisa-hospitaal besoek saam met die adjunkminister van Binnelandse Sake Njabulo Nzuza, geskenke aan die moeders uitgedeel en klem geplaas op die belangrikheid van borsvoeding en inenting. Daarby het die LUR gesê die nuut-indiensgestelde opgeknapte vrouesaal by Tembisa bied verbeterde infrastruktuur en dienste:
# Pous Franciskus het in sy Kersboodskap gevra vir samesprekings tussen Oekraïne en Rusland om die oorlog te beëindig wat gevolg het op Moskou se inval twee jaar gelede met tien-duisende wat reeds in die oorlog dood is. Hy het gepraat op die balkom van die St Petrusbasiliek met duisende mense wat in die plein saamgedrom het, en gevra wapens moet stilgemaak word in die oorloggeteisterde Oekraïne. Die 88-jarige Franciskus, wat die 12de Kersfees van sy pousskap vier, het gevra vir ‘n einde aan politieke, maatskaplike en militêre konflikte, in lande soos Libanon, Mali, Mosambiek, Haiti, Venezuela en Nicaragua.
# Krieket: Die Pakistanse snelbouler Khurram Shahzad is ingesluit in die toetsgroep vir die reeks van twee wedstryde teen Suid-Afrika. Die 25-jarige sluit hom aan by sy mede-snelbouler Mohammad Abbas wat vir die eerste keer sedert 2021 terugkeer na die toetsgroep. Shahzad is nie opgeneem in die groep vir die tuistoetsreeks teen Engeland in Oktober nie weens ‘n sybesering. Pakistan se toetskaptein Shan Masood sê die terugkeer van Shahzad en Abbas is ‘n welkome ontwikkeling vir die span. Die eerste toets begin vandag in Centurion.
# En, die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku nat weer sal van vandag af tot die naweek voortduur oor groot dele van Suid-Afrika. Verspreide buie en donderbuie word verwag oor Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat. ‘n Geel vlak 2 waarskuwing vir ernstige donderstorms met plaaslike oorstromings bly in plek vir dele van die Oos- en Noord-Kaap. Warm, droë toestande duur voort in die Wes-Kaap. Die Oos-Kaap kan uiterste hitte verwag oor die kusgbiede, met wydverspreide reën wat Saterdag oorwaarts beweeg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….