Nuus 11:00
BULLETIN 20 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom president Ramaphosa se ondertekening van die Wysigings-wetsontwerp op Nasionale Padverkeer
# Human Rights Watch beskuldig Israel van volksmoord deur die beperking van water in Gaza
# En rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap word vanaand hervat na ‘n onderbreking van drie weke
# Cosatu verwelkom president Cyril Ramaphosa se bekragtiging van die belangrike Wysigingswetsontwerp op Nasionale Padverkeer. Woordvoerder Matthew Parks sê gemiddeld 14-duisend mense sterf elke jaar onnodig op Suid-Afrika se paaie weens roekelose bestuur. Hy sê 40-persent van motorongelukke hou verband met drankgebruik, en ander met onpadwaardige voertuie of mense wat nooit ‘n rybewys moes gekry het nie:
# Die Grensbestuursowerheid het 14 nuwe biometriese stelsels op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng aangebring om lughawesekerheid te versterk, die immigrasieproses te stroombelyn, en ter ondersteuning van biosekerheid en landbou-inspeksies. Hierdie opgraderings is om verhoogde getalle passasiers gedurende die feestyd te hanteer terwyl dit terselfdertyd doeltreffende sifting verseker om die invoer van skadelike landbouprodukte en omgewingsrisiko’s te voorkom. Die kommissaris van die owerheid, Michael Masiapato, sê vier stelsels is reeds in werking:
# Die ANC-Jeugliga in Gauteng sê die gebrek aan deursigtigheid met die ondersteuningsprogram van 500-miljoen-rand aan kleinsake-ondernemings, insluitend spazawinkels, ondermyn openbare vertroue. Die fonds sal bestuur word deur die Departemente van Handel, Nywerheid en Mededinging, en van Kleinsake-ontwikkeling. Die liga sê daar is nog geen duidelikheid oor die toekenningsproses of die bevoordeeldes nie. Hy voeg by die gebrek aan deursigtigheid wek ernstige kommer oor die billike verspreiding van bronne.
# Human Rights Watch beskuldig Israel van volksmoord-dade teen Palestyne in Gaza deur voldoende watervoorsiening te weerhou. Die organisasie sê in sy jongste verslag Israel het doelbewus infrastruktuur beskadig. Dit sluit in sonkragpanele by watersuiwerings-saanlegte, ‘n reservoir, en ʼn pakhuis met onderdele. Hy sê hulle keer ook dat brandstof vir opwekkers gelewer word. Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se waarnemende woordvoerder, Vedant Patel, sê hulle verskil van die verslag, maar gaan voort om met Israel oor die kwessie te praat:
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen hervat vanaand na drie weke wanneer Ulster nog ‘n Ierse span, Munster, verwelkom. Môre gaan die vier Suid-Afrikaanse spanne mekaar in twee derbies pak – die Stormers en die Leeus in Kaapstad, en die Haaie en die Bulle in Durban. Die Bulle is tans derde op die punteleer na Leinster en die verdedigende kampioen, Glasgow Warriors. Die Leeus is vyfde, die Haaie sesde en die Stormers 13de na slegs twee oorwinnings in hulle eerste ses kragmetings.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-309-dollars-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-604-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-56-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….