Nuus 11:00
BULLETIN 18 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni waarsku oor ‘n toename in kuberaanvalle
# ActionSA sê hy veg bo sy gewigsgrens in die Parlement
# En die Verenigde Nasies sê die humanitêre krisis in Oekraïne word net erger
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, waarsku Suid-Afrika beleef toenemende voorvalle van kubermisdaad en kuberaanvalle. Die aanvalle raak alle sektore van die ekonomie, wat insluit telekommunikasie, finansies en gesondheid. Die minister van Polisie, Senzo Mchun,u het in ‘n parlementêre antwoord onthul twee-duisend-679 gevalle van kubermisdaad is in twee jaar aangemeld, maar net 83 daarvan is verwys na die Nasionale Vervolgingsgesag. Ntshavheni sê die afgelope twee jaar was die ergste bedreiging losprys-aanvalle, in die privaat sowel as in die openbare sektor.
# ActionSA sê hy veg ver bo sy gewigsgrens in die Parlement, waar hy slegs ses lede het. Athol Trollip van die party sê van die begin van die sewende Parlement af het hulle dieselfde aantal vrae ingedien as die amptelike opposisie, wat meer as 50 lede het. Trollip sê ActionSA bereik steeds die breedste mooontlike blootstelling aan elke kritieke bespreking en besluit wat Suid-Afrikaners raak deur versigtig elkeen van sy parlementslede se tyd in te deel oor ‘n minimum van drie komitees:
# ‘n Betoging word vandag buite die Pretoriase Streekshof gehou waar ʼn veiligheidswag verskyn wat na bewering twee volwassenes en ʼn sesjarige kind buite die Eastwood-taverne geskiet het. Die polisie sê ʼn groep sokkerondersteuners het in twee voertuie op die parkeerterrein aangekom na ʼn wedstryd op Loftus Versfeld. Woordvoerder Mavela Masondo sê ʼn gewapende veiligheidswag het die groep gevra om hulle musiek sagter te draai. ʼn Skermutseling het ontstaan en die wag het na bewering verskeie skote gevuur en die drie gewond.
# Die Verenigde Nasies se kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake sê burgerlikes in Oekraïne byt die spit af van die verergerende Russiese aanvalle, terwyl ongevalle skerp styg. Verlede maand is 65 burgerlikes dood en 372 gewond in elf streke, wat dubbel soveel was as die vorige maand. Lisa Doughten van die VN sê aanvalle duur daagliks voort, en veroorsaak dood, verwonding en ongekende lyding onder gewone Oekraïners, en die vernietiging van en skade aan burgerlike infrastruktuur:
# Rugby: Die Italiaanse span Zebre Parma kan volgende seisoen deur ʼn ander klub vervang word in die Verenigde Rugbykampioenskap. Plaaslike media berig die sukkelende klub kan reeds hierdie week verneem wat sy toekoms inhou. Dit word glo vandag op ʼn vergadering bespreek en Parma kan teen Junie ophou bestaan. Die raad van die Italiaanse Rugbyunie oorweeg glo moontlikhede van ʼn nuwe klub wat privaat befonds word, soortgelyk aan Benetton se onafhanklike model. Die raad sal glo riglyne goedkeur sodat ʼn belegger Parma se lisensie kan oorneem.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-761-dollars-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-645-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-18-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….