Nuus 11:00
BULLETIN 17 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU veroordeel die aanstelling van McKinsey en Bains
# Santaco doen ‘n beroep vir verskerpte padveiligheid
# En ‘n regter verwerp Trump se poging om sy swyggeld-skuldigbevinding terug te trek
# Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde, eis die opskorting van alle kontrakte met die konsultasiegroepe McKinsey en Bains and Company wat by ‘n skandaal betrek is. McKinsey is as ‘n ondersteunende vennoot van die B20 aangestel – ‘n sake-skakelgroep wat tydens die G20-beraad vergader. Bains is op sy beurt deur die Energieraad van Suid-Afrika aangestel om sy kantoor vir projekbestuur te hanteer. Mogoshadi Maserumule van Saftu sê die regering kan nie met maatskappye sake doen wat die land wil laat misluk nie:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad sê hy is bekommerd oor die voortslepende lewensverlies op die land se paaie, ten spyte van pogings om padveiligheid te bevorder. Dit volg nadat 15 mense gister in ‘n botsing tussen ʼn sportnutsvoertuig en ʼn taxi op die N9 naby Graaff-Reinet in die Oos-Kaap dood is. Santaco se nasionale woordvoerder, Mmatshikhidi Rebecca Phala, sê die betrokke owerhede moet hul pogings verskerp en mense wat verkeersreëls oortree, aanspreeklik hou:
# Die Grensbestuursowerheid sê bedrywighede by die Lebombo-grenspos verloop glad terwyl vakansieverkeer toeneem. Die grens het die afgelope weke ontwrigtings ondervind weens betogings ná die onlangse Mosambiekse verkiesing. Dit het tot uitermatig lang rye vragmotors aan die Suid-Afrikaanse kant van die grens gelei, wat ‘n groot verkeersopeenhoping veroorsaak het. Mmemme Mogotsi van die owerheid sê die prosessering van vrag aan beide kante is weer normaal:
# ‘n New Yorkse regter het die verkose president, Donald Trump, se aansoek van die hand gewys dat sy swyggeld-skuldigbevinding in die lig van presidensiële kwytskelding laat vaar word. Trump is in Mei skuldig bevind op 34 klagte van die vervalsing van sakerekords. Die appèlhof het in Julie beslis dat hy uitgebreide kwytskelding het van strafregtelike vervolging vir amptelike optrede tydens sy ampstermyn. Regter Juan Merchan sê die getuienis wat aan Manhattan se distriksprokureur voorgelê is, hou nie verband met Trump se optrede as president nie
# Krieket: Nieu-Seeland het Engeland op die vierde dag van die derde en laaste toets in Hamilton met 423 lopies verpletter in een van hulle grootste toets-oorwinnings ooit. Die besoekers se teiken was 658, en ten spyte van Jacob Bethell se 76, was Engeland op 234 almal uit met Mitchell Santner wat in die tweede beurt vier paaltjies platgetrek het. Dit was ook Tim Southee se laaste toetswedstryd en hy tree af met 391 paaltjies op sy kerfstok. Engeland wen die reeks twee-een.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-873-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….