Nuus 11:00
BULLETIN 12 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema verwerp Mabuza se vroeëre versoek om na die ANC terug te keer
# ’n Regter eis bewyse na Mkhwanazi se bewerings oor samespanning
# En Donald Trump dank meer as ‘n duisend diplomatieke amptenare af
# Die EFF-leier Julius Malema het hulde gebring aan die voormalige adjunkpresident David Mabuza as iemand wat mense verenig en armes ondersteun het. Mabuza is verlede week Donderdag ná ‘n lang siekbed weens asemhalingsprobleme in die hospitaal oorlede. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika by Mabuza se begrafnis in Mbombela, het Malema gesê hy verwerp Mabuza se vroeër wens dat hy terugkeer na die ANC. Hy sê die party is ‘n misdaadsindikaat wat nie meer die mense dien nie:
# Die EFF se nasionale woordvoerder, Sinawo Thambo sê hulle verwerp die Kommunikasie- en Digitale Tegnologieë-begroting omdat dit wetlik gebrekkig, teen armoede en monopolisties is. Thambo sê die begroting ignoreer die Wet op Geldrekeninge deur verbintenisse op die platteland te misken. Hy sê dit stel buitelandse belange soos Starlink in staat om eienaarskapswette te omseil, verwaarloos die sukkelende SABC, en versuim om ‘n staatsbeheerde telekommunikasie-verskaffer in te rig om bekostigbare digitale toegang te verseker:
# Die Regterpresident van die Vrystaatse Hooggeregshof, Cagney Musi, het die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, versoek om feitelike bewyse te lewer vir bewerings dat sommige regterlike beamptes met misdadigers saamspan. In ‘n onderhoud met SABC News sê Musi die vae bewerings is skadelik en kan die publiek se vertroue in die regbank ondermyn. Hy sê gestaafde bewerings is belangrik om die integriteit van die regstelsel te beskerm:
# Die Amerikaanse regering het gister begin om meer as een-duisend-350 werknemers af te dank, as deel van president Donald Trump se ongekende hervorming van sy diplomatieke korps. Die afleggings raak een-duisend-107 staatsamptenare en 246 buitelandse afgevaardigdes wat in die Verenigde State gebaseer is. Dit volg terwyl Washington worstel met verskeie krisisse op die wêreldtoneel: Rusland se oorlog in Oekraïne, die byna twee jaar lange Gaza-konflik, en die Midde-Ooste met Israel en Iran se konflik op ‘n mespunt.
# En laastens sportnuus:
# Krieket: Suid-Afrika speel Maandag in Harare teen die gasheer, Zimbabwe, in die eerste wedstryd van die driehoekige T20-reeks waaraan Nieu-Seeland ook deelneem. Rassie van der Dussen voer die span aan terwyl die gereelde kaptein, Aiden Markram, en nog ‘n hele paar ander hoëprofiel-spelers ruskans kry. Die jong kolwer Lhuan-dré Pretorius kan sy T20-buiging vir Suid-Afrika maak na sy indrukwekkende vertoning in die onlangse toetsreeks teen Zimbabwe. Die Proteas is na die driehoekige reeks op pad Australië toe, vir ‘n toer van drie T20s en drie eendagwedstryde.
# En sokker: Premierliga-kampioene Liverpool het spannommer 20 onttrek ter ere aan die oorlede voorspeler Diogo Jota, wat verlede week Donderdag in ‘n motorongeluk dood is. Die klub het gister die emosionele aankondiging gemaak ná oorlegpleging met Jota se vrou, Rute, en familie. Sy nommer sal nie meer op enige vlak gebruik word nie, insluitend Liverpool FC Women and Academy. Jota het in 2020 aangesluit, die nommer 20 gedra en gehelp om Liverpool se 20ste ligatitel te wen. Die klub sê hy sal vir vir altyd onthou word as Liverpool se nommer 20.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….