Nuus 11:00
BULLETIN 12 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi verdedig die Kubaans-Suid-Afrikaanse mediese program
# Binnelandse Sake gebruik lyfkameras om korrupsie by grensposte te bekamp
# En die VN se Algemene Vergadering aanvaar ‘n voorstel vir ‘n skietstilstand in Gaza
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, ontken dat die Nelson Mandela-en Fidel Castro-mediese samewerkingsprogram verkwistend is en tekortkominge het. Die program lei Suid-Afrikaanse studente op om mediese praktisyns in die twee lande te word. Dit is sedert sy stigting gekritiseer omdat dit te duur en onprakties is. Motsoaledi het in ’n geskrewe antwoord op ’n parlementêre vraag gesê die studente se befondsing kos jaarliks sowat 23-miljoen-rand. Hy voeg by daar is beheerstrukture wat studente en die land se belange beskerm.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die bekendstelling van hommeltuie en liggaamskameras vir grensbeamptes sal bydra om korrupsie op grense te bekamp. Volgens hom sal die Grensbestuursowerheid hommeltuie inspan om grensveiligheid te monitor, terwyl liggaamskameras deursigtigheid en aanspreeklikheid sal verseker. Schreiber sê hierdie maatreëls sal onwettige bedrywighede bekamp en immigrasiewette doeltreffend afdwing. Hy meen dit stuur ‘n sterk boodskap aan diegene wat die land se regulasies oortree:
# Die Wes-Kaapse polisie ondersoek die ontdekking van dwelms en ammunisie by die huis van die Bergrivier-munisipaliteit se DA-burgemeester, Ray van Rooy. Hy is vir ondervraging ingeneem ná die vonds by sy huis in Piketberg, maar nog nie aangekla nie. Die munisipaliteit sê hulle wag op verdere optrede deur die polisie. Die DA-woordvoerder, Matthew Sims, sê Van Rooy ontken alle bewerings, maar onderneem om sy volle samewerking te gee met die regsproses wat sal volg.
# Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het ‘n voorstel aanvaar wat ‘n onmiddellike, onvoorwaardelike skietstilstand in Gaza en die vrylating van gyselaars eis. Dit is aanvaar met 158 stemme ten gunste en nege daarteen, met 13 wat buite stemming gebry het. ‘n Tweede voorstel is deurgevoer wat Israel vra om die mandaat van die VN se Hulp- en Werk-agentskap te respekteer. Israel se ambassadeur by die VN, Danny Danon, beskuldig ondersteuners van die voorstelle van samespanning met Hamas:
# Krieket: Geen ooreenkoms is nog bereik oor die formaat van volgende jaar se Kampioenetrofee-toernooi nie, nadat Indië geweier het om in die gasheerland, Pakistan, te speel, te midde van sekerheidsvrese en politieke spanning. Pakistan het skynbaar ingestem tot ‘n hibriede toernooi wat behels dat hy in Doebai teen Indië speel, maar Indië maak beswaar oor die voorwaarde dat hy dan moet instem tot ‘n soortgelyke formaat in elke internasionale toernooi wat hy tot 2027 aanbied. Die agt beste manspanne in verlede jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi sal aan die toernooi deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-637-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-717-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….