Nuus 11:00
BULLETIN 11 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Raad van Provinsies bewillig meer geld vir Suid-Afrika se saak teen Israel
# Die DA wil hê die plaag van smokkelhandel in tronke moet aandag kry
# En gholf: Scottie Scheffler is weer die PGA-toer se Speler van die Jaar
# Die Nasionale Raad van Provinsies het die Spesiale Toewysingswetsontwerp deurgevoer met teenstand van die MK-party en die Vryheidsfront Plus. Die wetsontwerp stel befondsing beskikbaar vir die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se koste van 40-miljoen-rand vir die hofsaak teen Israel in die Internasionale Geregshof. Dit stel ook 38,2-miljoen-rand beskikbaar vir die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling vir sy verrigtinge by die hof. Suid-Afrika het in Desember verlede jaar die saak by die hof aanhangig gemaak waarin hy Israel beskuldig van volksmoord.
# Die DA sê die omvang van smokkelhandel in Suid-Afrikaanse tronke wys dat dié plaag krisisvlakke bereik het. Amptenare het die afgelope 12 maande in korrektiewe sentrums beslag gelê op byna ‘n duisend kilogram dwelms, meer as 41-duisend selfone, elf-duisend wapens, meer as 250 liter alkohol en 200-duisend-rand kontant. ‘n DA-woordvoerder, Kabelo Kgobisa-Ngcaba, sê Korrektiewe Dienste stel nie gevolgebestuur in nie:
# Die Suid-Koreaanse polisie het ‘n klopjag uitgevoer op president Yoon Suk Yeol se kantoor as deel van ‘n wyer ondersoek na sy kortstondige afkondiging van krygswet verlede week. Die klopjag was volgens berigte ‘n poging deur wetstoepassingsagentskappe om vas te stel of Yoon se optrede, gesteun deur senior figure in sy administrasie, neergekom het op opstandige optrede. Die misdaad dra nie presidensiële kwytskelding in Suid-Korea nie, maar in sommige gevalle die doodstraf. Yoon is verbied om die land te verlaat.
# Gholf: Die wêreld nommer-een, Scottie Scheffler, is die PGA-toer se Speler van die Jaar, en sluit by Tiger Woods aan as die enigste speler wat die eer drie agtereenvolgende jare kon inpalm. Die Amerikaner het 91-persent van die stemme gekry. Scheffler spog met 13 PGA-toer-oorwinnings in sy loopbaan, waarvan sewe vanjaar. Hy het die eerste speler geword wat sy titel kon verdedig op die Spelerskampioenskap, en het sy tweede Amerikaanse Meesterskroon in drie seisoene ingepalm. Die 28-jarige is ook in Parys beloon met ‘n Olimpiese gouemedalje.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-736-dollars-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-695-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-70-sent per vat.
# En die Amerikaanse beroeps-basketbalspeler, Caitlin Clark, is die tydskrif Time se Atleet van die Jaar. Sy is die eerste Nasionale Vroue-Basketbalverenigingspeler wat die eer ontvang. Die 22-jarige is ‘n tweemalige nasionale kollegespeler van die jaar van die Universiteit van Iowa, en die huidige WNBA-nuweling van die jaar van die Indiana Fever. Sy het dié jaar die Heldesaal-vereerde Pete Maravich se prestasie oorskry, en was die top-puntemaker. Clark sê sy het baie om op trots te wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….