Nuus 11:00
BULLETIN 16 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hervormings wat nou ingestel word, sal die ekonomiese trajek vir die volgende dekade bepaal
# Die dodetal van die ongeluk in Limpopo waarby gevangenes betrokke was, het tot nege gestyg
# En tennis: Alcaraz is deur na die Cincinnati Ope-halfeindronde, terwyl Sabalenka uitgeskakel is
# Die adjunkminister van Finansies, Ashor Sarupen, sê beleidshervormings is noodsaaklik gegewe hul kritieke rol in die ontsluiting van ekonomiese geleenthede en die verbetering van dienslewering. Business Leadership South Africa het die Reform Tracker bekendgestel. Dis ‘n innoverende aanlyn platform wat ontwerp is om die vordering van belangrike regeringshervormings te monitor en te meet. Die instrument evalueer byna 240 projekte in drie kategorieë: strafregtelike, regerings- en ekonomiese hervormings. Sarupen sê hervormings is ‘n regstreekse roete om die land se groeikoers en mededingendheid te verhoog en werk te skep.
# Die DA vra dat die minister van toerisme, Patricia de Lille, dringend verantwoording aan die Parlement moet doen na die voorlopige skorsing van die uitvoerende hoof van SA Toerisme, Nombulelo Guliwe. Haar skorsing volg op ernstige bewerings van wangedrag. Die minister sê egter die SA Toerismeraad se besluit om Guliwe te skors is onwettig. Haseena Ismail van die DA sê die minister kan nie die raad aanval terwyl sy geen aandag gee aan die ernstige bewerings teen die uitvoerende hoof nie:
# Die dodetal in Donderdag se ongeluk tussen ‘n polisievoertuig en ‘n vragmotor op die R-101 in Limpopo het tot nege gestyg. Die polisievoertuig was met elf gevangenes op pad na die hof toe dit met die vragmotor gebots het en ses gevangenes en een polisiebeampte dood is. Polisiewoordvoerder, Hlulani Mashaba, sê twee verdere gevangenes wat na die botsing in die hospitaal opgeneem is, het aan hul beserings beswyk:
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake, Mosa Chabane, veroordeel die brand by die departement se gebou in Germiston aan die Gautengse Oos-rand en dring aan op ‘n vinnige ondersoek en vervolging. Vier beskuldigdes is nou aangekeer. Die 30-jarige Malwande Tukula en die 64-jarige Mandisa Mboxwana het ook in die plaaslike Landdroshof verskyn op aanklag van openbare geweld. Chabane waarsku die verwoesting het noodsaaklike dienste ontwrig, maar prys die departement se vinnige reaksie met mobiele diensvragmotors en die gebruik van nabygeleë kantore om voortgesette dienslewering te verseker.
# Die VN-sekretaris-generaal, António Guterres, sê dit word betreur dat, ten spyte van pogings om ‘n wettige internasionale bindende ooreenkoms oor plastiekbesoedeling aan te gaan, konsensus nie bereik is nie. Die afgelope twee weke het afgevaardigdes van 183 nasies aan die onderhandelinge in Genève, Switserland, deelgeneem. Die wêreld produseer jaarliks sowat 350-miljoen ton plastiekafval. Die VN-hoofwoordvoerder, Stéphane Dujarric, sê ten spyte daarvan dat geen ooreenkoms bereik is nie, is dit bemoedigend dat lande ooreengekom het om die besprekings binnekort te hervat:
# En tennis: Die wêreld se nommer twee, Carlos Alcaraz, het ‘n heerlike halfeindstryd teen die wêreld se nommer drie, Alexander Zverev van Duitsland, in die Cincinnati Ope opgestel. Die Spanjaard het Rusland se Andrey Rublev geklop, terwyl Zverev die Amerikaner Ben Shelton verslaan het. In die vroue-afdeling het Elena Rybakina van Kazakstan die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus uitgeskakel. Sy sal teen Pole se Iga Swiatek in die halfeindronde te staan kom, wat Rusland se Anna Kalinskaya geklop het. Die Italianer Jasmine Paolini het die Amerikaner Coco Gauff verslaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….