Nuus 11:00
BULLETIN 4 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s bevestig Suid-Afrika se Ba2-gradering met ‘n bestendige vooruitsig
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge waarsku oor landelike eiendomsreg
# En gholf: Tiger Woods sê hy is nog nie toernooi-gereed nie
# Die graderingsagentskap Moody’s het Suid-Afrika se Ba2-gradering bevestig en ‘n bestendige vooruitsig behou. Hy sê die bevestiging dui op die land se sterkpunte, van kerninstellings soos die regsbank en die sentrale bank, tot ‘n stewige eksterne posisie. Moody’s erken egter voortdurende uitdagings as gevolg van ongelykhede wat die vordering met hervorming strem, maatskaplike risiko’s aanvuur, en voortslepende strukturele beperkings plaas op ekonomiese groei. Dit volg nadat S&P Global verlede maand sy vooruitsig vir Suid-Afrika opgradeer het van bestendig na positief.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge is besorg omdat landelike grondeienaars se eiendomsreg hulle ontneem word ingevolge die nuwe Wysigingswet op Gemeenskaplike Eiendomsverenigings. Gabriel Crouse van die IRR sê 470-duisend landelike grondeienaars moet nou goedkeuring van die staat kry om hul grond te verhuur of te verkoop, wat ekonomiese vryheid aan bande lê. Hy sê dit bedreig alle eiendomsreg in Suid-Afrika. Crouse vra die wetgewing moet herroep of regstappe gedoen word om landelike gemeenskappe se ekonomiese geleenthede te beskerm:
# Die DA in Gauteng eis ‘n dringende ondersoek na die jongste voorval van voedselvergiftiging wat dié week die lewe geëis het van ‘n leerder van die Laerskool Wilhelmina Hoskins in Riverlea, Johannesburg. Meer as 20 kinders is reeds in die provinsie dood aan vermeende voedselvergiftiging wat verbind word met spazawinkels. Sergio Isa dos Santos van die DA sê die gesondheidsamptenare van Johannesburg doen nie genoeg om voldoening deur die spazawinkels te verseker nie:
# Suid-Korea se president, Yoon Suk Yeol, ondervind toenemende oproepe van sy party en die opposisie dat hy moet bedank nadat hy krygswet afgekondig het. Hy het gesê dis nodig om die land se liberale demokrasie te beskerm teen magte teen die staat en teen Noord-Koreaanse kommunistiese magte. Partylede het gestem om dit nietig te verklaar. Die regerende People Power Party sê Yoon en sy hele kabinet moet bedank. Die hoofopposisie, die Demokratiese Party, sê hy sal Yoon in ‘n staat van beskuldiging laat plaas as hy nie onmiddellik bedank nie.
# Gholf: Die 15-malige major-kampioen Tiger Woods sê hy is onseker of hy binnekort weer mededingend sal kan speel. Die voormalige wêreld nommer een het sedert sy motorongeluk in Februarie 2021 net in elf toernooie afgeslaan en in drie van dié seisoen se vier majors nie die afsnypunt oorleef nie. Hy is in September geopereer om rugspasmas en pyn te verlig. Die 48-jarige Woods, wat dié week die Hero World-uitdaagtoernooi in die Bahamas aanbied, sê hy is nog nie skerp genoeg vir ‘n toernooi nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-652-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….