Nuus 11:00
BULLETIN 15 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die FW de Klerk-stigting sê die Amerikaanse menseregteverslag moet ‘n wekroep vir die regering wees
# Minstens 50 mense sterf en meer as 200 word vermis ná kitsvloede in Indië
# En rugby: Scott Barrett is terug na ‘n besering om die All Blacks teen die Pumas aan te voer
# Die FW de Klerk-stigting sê Amerika se verslag oor menseregte in Suid-Afrika moet ‘n wekroep wees vir die regering van nasionale eenheid en die ANC. ʼn Groot deel van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se verslag handel oor die bekragtiging van die Onteieningswet, wat daarop dui dat die menseregte-situasie in die land verswak het. Die stigting sê die kern hiervan is dat die land ʼn ernstige ineenstorting van wet en orde ervaar en dringende stappe moet ingestel word om dit te herstel.
# Die DA verwelkom die publisering van die blokvrystellingsregulasies vir die suikerbedryf en sê dit sal verligting bring vir ʼn bedryf wat plaaslike en globale uitdagings ondervind. Die vrystelling laat spesifieke rolspelers in die suikerbedryf toe om saam te werk oor prysbepalingsmetodes en ander bedrywighede wat gewoonlik ingevolge die Wet op Mededinging beperk word. ʼn DA-woordvoerder, Mlondi Mdluli, sê hierdie uitsluiting kan die bedryf bestendig maak en 65-duisend werksgeleenthede beskerm:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, het ‘n dissiplinêre raad gestig om finansiële wangedrag en onwettige, ongewone, nuttelose en verkwistende uitgawes te ondersoek. Die minister van Finansies, Enogh Godongwana, het vroeër die maand gedreig om befondsing van die metro te onttrek as die burgemeester nie vorendag kom met ‘n omvattende program om ongemagtigde uitgawes teen te werk en sterk bestuur af te dwing nie. In die 2023/24 boekjaar was daar 23-miljard-rand se verkwiste uitgawes. Morero sê daar is reeds vordering gemaak:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 56 mense is dood en meer as 200 word vermis nadat ‘n kitsvloed die afgeleë bergdorp Chashoti in die Indies-beheerde deel van Kasjmir getref het. Oorstromings weens stortreën het geboue vernietig, motors weggespoel en strate in riviere verander. Reddingspanne het 300 mense na veiligheid gebring. Amptenare sê reddingsoperasies gaan voort met die Weermag en die polisie wat na vermistes soek. Verlede week het vloedwater ‘n hele Himalaise dorp in die Indiese provinsie Uttarakhand weggespoel en vier mense is dood.
# Rugby: Scott Barrett is terug na ‘n besering om Nieu-Seeland môre aan te voer in die Rugbykampioenskapswedstryd teen Argentinië in Córdoba. Hy sal saam met Fabian Holland op slot begin in een van nege veranderings aan die span wat verlede maand se reeks teen Frankryk in Hamilton afgesluit het. Tupou Vaa’i keer ook terug nadat hy die laaste toets teen die Franse weens ‘n besering misgeloop het. Die All Blacks se hoofafrigter, Scott Robertson, verwag ‘n strawwe kampioenskap:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-101-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….